Potchefstroom en Noordwes verloor een van sy bekende en getroue sport- en kultuurpersoonlikhede
Jan Prinsloo, bekende Springbok rugby Leaguespeler en SA Meesters atleet was tot onlangs toe nog adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kanonniersvereniging. Hy trek die week Natal toe. Hy is ’n groot kampvegter vir die bewaring van SA erfgoedere en was ook op sy dag lid van die Afrikaanse Handelsinstituut se Parlementêre Staande Komitees. Hy gaan hom …

Jan Prinsloo, bekende Springbok rugby Leaguespeler en SA Meesters atleet was tot onlangs toe nog adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kanonniersvereniging. Hy trek die week Natal toe. Hy is ’n groot kampvegter vir die bewaring van SA erfgoedere en was ook op sy dag lid van die Afrikaanse Handelsinstituut se Parlementêre Staande Komitees. Hy gaan hom binnekort in die land van die Sharks vestig, waar hy van voornemens is om as Meestersatleet die Natalspan te haal.
Prinsloo het in 1962/3 nasionale kleure as Springbok Rugby League-speler verwerf en as lid van die SA Meesters span na die Wêreld Meesterskampioenskappe in Brasilië die SA vlag as Potchefstromer gedra. Hy sou vanjaar aan die Wêreldkampioenskappe in Spanje deelneem maar ‘n klein operasie het sy deelname gefnuik.
Gedurende die sewentigerjare was hy lid van die AHI se Staande Parlementêre komitees en het in verskeie Ministeriële komitees gedien. As bestuurslid van Potchefstroom Dorp Rugbyklub het hy ‘n belangrike rol gespeel met die viering van Dorp se 125ste verjaarsdag. Volgens Prinsloo was hy regstreeks verantwoordelik vir die nuwe hoogtes wat die klub en veral die spelers bereik het.
“As Leagueman word ek allerweë as ‘n groot liefhebber van rugby in die algemeen beskou en as voormalige visepresident van die Suid-Afrikaanse Rugby League Raad handhaaf ek steeds aangename skakeling met SARU,” noem Prinsloo.

Hy is enkele jare gelede as League se eerste Legende benoem wie se naam nou in die sportkode se Heldesaal pryk. ‘n Benoeming op internasionale vlak as League se eerste “onsterflike”, is deur hom van die hand gewys na meer as 60 jaar se aktiewe deelname aan die sport.
Hy is die stigter van Suid-Afrika se huidige SA Skole Rugby League Akademie by die Tegniese Hoërskool in Potchefstroom en ‘n program om lewensvaardighede by kinders te kweek is deur hom aan die Noordwes Departement van Onderwys en Sportontwikkeling voorgelê wat van vanjaar af by skole aangebied word. In Natal sal die oud-Potchefstromer probeer om die Sharks se Oldies te verteenwoordig en daarvoor sien Prinsloo steeds kans.



