Promosa Sekondêre Skool se atletiekreserwes is aan die groei met twee van hulle top atlete, Damian Visagie (o.19) en JJ Opperman (o.15) wat vir die SASA Nasionale Atletiekkampioenskappe in Port Elizabeth vanaf 21-23 Maart gaan deelneem.
Die enigste stok in die wiel van hierdie twee atlete, is dat hulle nie fondse vir atletiekdrag, speekskoene en reiskostes het vir die byeenkoms nie en het die gemeenskap se hulp nodig om hulle drome realiteit te maak.
Volgens hulle afrigter DoeLano Korhaan, is hierdie twee van sy doelgerigtste en talentvolste atlete wat werklikwaar nog die atletiekwêreld kan laat regop sit.
“Dit is ongelooflik dat hierdie twee atlete vir die SA’s kan kwalifiseer met die fasiliteite en ondersteuning wat hulle het. Dit wys hulle harde werk en wilskrag. Natuurlik het altwee atlete ook hope talent. Damian (200m en 400m) was laasjaar by SA’s en het toe vierde gekom en net op ‘n podiumplek uitgemis. Hierdie jaar gaan hy vir ‘n medalje mik,” noem DoeLano.
JJ is die ander ster by Promosa Sekonder en hierdie jong verspring-sensasie sal graag sy afstand van 5.87 meter in ‘n 6 meter sprong by die SA’s wil verbeter.
“Dit is die mikpunt vir hom en ek weet hy kan dit doen. Kyk, ek begin al September met my atlete oefen, waar ons ‘n harde atletiekprogram volg wat 7 dae ‘n week loop. In die middae na skool is dit van 4-7 en na kerk sal ons ook oefen. Ek pas my programme elke jaar ook aan en vanjaar het ek twee SA atlete, JJ en Damian, opgelewer so dit wys my dit werk,” noem DoeLano.
Die roete na die SA Kampioenskappe in PE is nie juis ‘n maklike een nie, met atlete wat verskeie eerste plekke by distrik en provinsiale byeenkomste moet behaal om in aanmerking te kom.
“Damian het die vinnigste tyd in die distrik behaal en het daar al bewys wat hy kan doen. Ek isook opgewonde oor JJ se potensiaal,” noem DoeLano wat 15 Promosa Sekondêr-atlete by die Dr. Kenneth Kaunda se distrikbyeenkoms en 7 van die skool se atlete by die provinsiale kampioenskappe laat deelneem het. DoeLano vertel ook dat sport juis vir die jeug ‘n kans gee om weg van dwelms in Promosa te bly en eerder op gesonder tydverdrywe te fokus wat selfbeeld bou.
“Dit is belangrik dat die gemeenskap kan help en soveel as moontlik kan insit. Ons sal dit baie waardeer as enige borge die atlete kan help om hulle drome te realiseer.”
Promosa Sekondêr se hoof, mnr. Wynton Louw beam ook die stelling en staan bankvas agter dié twee atlete wat Promosa en Noordwes se naam hoog wil gaan hou.
“Te midde van hulle omstandighede wys hulle steeds durf en ‘n wil om betekenis aan hulle lewe te gee. Die wilskrag en doelgerigtheid wat hulle wys is inspirerend.”
Vir navrae kan DoeLano Korhaan op 071 783 9306 geskakel word.



