Sommige aande loop alles net in jou guns en vanaand was een van daardie aande vir die NWU se Varsitybekerspan teen Wits toe hulle die besoekers op die Fanie du Toit Sportgronde met 74-15 afgeransel het.
Die NWU het nege drieë gaan druk en skouspelagtige hardlooprugby opgedis was die tuisskare se monde laat water het en sommer gou van die vorige tuisteleurstelling teen Tuks vergeet het.
Puik vertonings van voorspelers Wian Conradie, Edmund Rheeder en Gideon van der Merwe het die fondasie gelê met Schalk Hugo wat weer foutloos met sy berekende skopskoen was.
Wits het die druk in die eerste 10 minute op die tuisspan gehou en hope fases in die 22 gehad met losskakel Chris Humpries was Wits met 3-0 laat voorloop.
Met die volgende afskop het die NWU gaan druk toe Wian Conradie ‘n los bal optel en in die hoekie oorduik. Die betroubare, Schalk Hugo sit die doelskop oor en die NWU loop 9-3 voor. Dit was van daar af eenrigtingverkeer met die NWU wat soos ‘n honger leeu bloed geruik het.
Net na die strategiebreek het die NWU hul tweede drie gaan druk toe Chuiner van Rooyen ‘n fantastiese breek maak en met ‘n fopaangee die Wits verdediging laat bontstaan het. ‘n Flink aangee na Danny du Plooy het verdere momentum verskaf voordat Gideon van der Merwe gaan druk het. Kort daarna het Van der Merwe sy tweede drie gehad na Lungelo Gosa langs die kantlyn te veel spoed vir Wits gehad het.
‘n Kort skoppie oor die heelagter se kop het gunstig vir Gosa gebons en hy het met ‘n aangee vir Van der Merwe gegee om die res te doen. Hugo korrel oor van die kantlyn af en die NWU is 30-3 voor na ‘n halfuur se spel. Die drieë het behoorlik gereën met Chuiner van Rooyen wat die vierde drie voor halftyd gaan druk na Hugo se briljante skop in die oop spasie. Pienaar van Niekerk kry ook sy naam op die telbord en toe Wits weer sien is hulle 46-3 agter.
In die tweede helfte het sake glad nie verbeter nie met twee Wits-spelers wat met geel kaarte rusbank toe gestuur is. Die NWU het net die spyker verder in die kis gehammer toe Edmund Rheeder oor is om die telling na 53-3 te vergroot. Van Niekerk druk sy tweede drie om die NWU na 60-3 te bring, voordat Wits ook uiteindelik ‘n drie van hulle eie inpalm met Daniel Kasende wat in die hoek oorduik net voor die laaste strategiebreek van die aand.
Die NWU het nog twee drieë danksy Conradie en Retief gaan druk om die ondersteuners met groot limlae huis toe te stuur.
NWU: 74 (46)
Drieë: Wian Conradie (2), Gideon van der Merwe (2), Chuiner van Rooyen, Pienaar van Niekerk (2), Edmund Rheeder, Johan Retief
Doelskoppe: Schalk Hugo (9)
Strafskoppe: Schalk Hugo
Wits: 15 (3)
Drieë: Daniel Kasende, Justin Brandon
Doelskoppe: Chris Humphries
Strafskoppe: Chris Humphries
*Lees meer oor hierdie wedstryd en die opkomende halfeindstryd teen Tukkies in Pretoria in Donderdag se Potchefstroom Herald (4 April).
Foto’s: Barco Greeff







