Die Luiperds sal altyd onlosmaaklik van May bly
May het in sy amp as president altyd die Luiperds eerste gestel en 110 persent gegee. Dit is die nalatenskap wat die voormalige Wes-Transvaal, Pukke en Potch Dorp slot graag sal wil agterlaat na ‘n nege-jaar reis in die Luiperds se warm stoel.
Rugby is vasgemessel in adv. André May se murg en bene met die fondasie van volharding en doelgerigtheid wat hom in sy tydperk as Luiperds Rugbyunie president altyd stewig op die aarde gewortel het.
May het in sy amp as president altyd die Luiperds eerste gestel en 110 persent gegee. Dit is die nalatenskap wat die voormalige Wes-Transvaal, Pukke en Potch Dorp slot graag sal wil agterlaat na ‘n nege-jaar reis in die Luiperds se warm stoel.
Daardie stoel was op sekere tye ‘n sagte rusplek vir May wat met durf en daad saam die Luiperds prominensie en sukses behaal het. Tog was die stoel op ander tye ook ondraaglik warm met ‘n paar moeilike besluit wat geneem moes word om die bestaan van die Luiperds op finansiële vlak te verseker.
Nou na 9 jaar kan May met ‘n skoon gewete van sy stoel afklim met die unie, aldus in swaar finansiële tye, nie ‘n sent skuld het nie. In ons gesprek is May met sy helderkleurige oranje das is ‘n weerspieëling van ‘n president wat nooit teruggedeins het vir enige iemand nie, maar tog altyd die belang van rugby in sy hart gedra het.

“Ek het alles ingesit en dit unie in die moeilikste finansiële tye deurgedra. Dit is nie ek alleen nie, ‘n ou soos voormalige HUB, Andries de Kock, het ook baie hiermee gehelp.
Daar moet wel ‘n skeiding tussen die Luiperds Rugbyunie en die Luiperds maatskappy kom. Die kommersiële entiteit moet geld genereer om weg te kom van die oorlewingsfase waarin ons is. Lê die klein unies se toekoms nie daarin om met ander unies saam te werk nie? Ons sal uit die boks moet dink en kommersiële deskundigheid moet bekom wat beide die unie en maatskappy kan bevoordeel,” sê May.
Verhouding met die NWU Rugbyinstituut
May het as Luiperdspresident op 29 April 2010 amptelik begin nadat die vorige Luiperds President, James Stofberg, as SARU se visepresident verkies is. Voorheen was May die regsadviseur vir die Luiperds.
May was ook deel van die eerste gesprekke tussen die Luiperds en die NWU Rugbyinstituut in hulle suksesvolle samewerkingsooreenkoms. Volgens May was een van die eerste keuses om vir Robert du Preez as afrigter te betrek.
“Ek het ‘n goeie verhouding met Robert gehad toe hy hier afgerig het. Hy het goed in die sisteem ingeval en is ‘n wenner. Die Luiperds het destyds met die Leeus en Sharks ooreenkomste gesluit, maar ons top ouens word opgeraap en dit is dieselfde wat met Robert gebeur het. Toe hy na die Sharks toe is, is baie van die spelers saam met hom,” verduidelik May.
‘n Ligpunt vir May is dat die Luiperds wel vanjaar die enigste unie is wat o.19, o.20 en o.21 rugby speel, maar sê in dieselfde asem dat daar steeds ervare klubspelers moet wees wat balans bring aan die senior Luiperdsspan.

“Al die junior kontrakte by groter unies word reg deur die land minder en dit gee ons die geleentheid om SA skolespelers te kan kontrakteer. Die fokus moet wees om junior rugby sterker te maak. Daar is wel ‘n illusie dat ‘n mens met ‘n Varsitybekerspan die Curriebeker Eerste Divisie kan wen,” noem May.
Gebrek aan geleenthede
“Die Griekwas en die Pumas het die balans van SA Rugby verander. Voorheen was hulle aan die kleiner unies se kant, maar nou word hulle gesien as franchises. Hulle sit nou op die franchise-komitee met die Anglo-Welsh-beker wat hulle lok.
“Die geleentheid vir die Luiperds om op te skuif na sterker kompetisie is van ons weggevat. Die vraag is hoe kompeteer ons met die Pumas en Griekwas wat privaat borge het. Die aspirasies van klein unies is doodgemaak. Daar is ‘n dryfkrag onder groot unies om alles by die klein unies weg te vat. Geld en beskikbare middele is skaarser as tien jaar gelede,” vertel May.
May gebruik ook die voorbeeld van die SWD Arende wat verlede seisoen die Curriebeker Eersteliga gewen het, en toe in ‘n uitspeelwedstryd teen die Vrystaat Cheetahs verloor het.
“Die SWD het ‘n uitsonderlike seisoen gehad, maar hulle het tans net vyf gekontrakteerde spelers. As hulle na die Curriebeker Premierliga sou opskuif, sou hulle dood wees. Daar is geen realistiese manier vir ‘n span om op te skuif nie. Die groter unies stem ons in die raadsale uit,” benadruk May.
Besluite was ook moeilik
Nog laagtepunte vir May was dat hy baie keer die persoon moes wees wat personeel moes laat gaan en dit het persoonlike verhoudings bemoeilik.
“Dikwels was dit op ‘n persoonlike vlak en dit het seergemaak om daardie besluite te maak weens finansiële tekortkominge. Almal is kwaad vir my, maar dit is nie ek wat die foute gemaak het nie. Dit vat aan ‘n ou en ek moes die boodskap oordra,” noem hy.
“Dit was ‘n ongelooflike voorreg om as die Luiperds president te dien en nou moet ek op my liefde vir die regswêreld fokus. Niemand is onmisbaar nie, en ek sal die volgende president my volle ondersteuning gee.”



