
Die Wilge Hoërskool se eerste en tweede rugbyspanne het op Saterdag, 1 Junie in die finaal van die Noordvaal Rugby Kampioenskap in Bedfordview deelgeneem en as oorwinnaars uit die stryd getree. Die is die derde keer in vier jaar dat dié skool se eerstespan die Noordvaal-trofee verower.
Die eerstespan het teen Jim van Tonder Skool van Bethal gespeel en met 27-22 gewen. Dit was ‘n tipiese finaal waar beide spanne hul alles gegee het. Lesego Seikaneng, kaptein van die span, het die verskil gemaak nadat hy twee puik strafskoppe deur die pale gestuur het. Dit het die weegskaal in die guns van Die Wilge geplaas.
Lebogang Thebenyane het die wedstryd finaal met ‘n puik individuele drie beklink. Seikaneng is ook as die algehele speler van die dag aangewys.
Die tweedespan het teen WH De Klerk Skool van Witbank gespeel. Die Wilge het die wedstryd vanaf afskop met aanvallende hardlooprugby gedomineer.
Die seuns het konstant druk op hulle opponent geplaas en hul beste wedstryd vir die finaal gelos. Die tweedespan wen uiteindelik met 57-22.
Foto’s: Verskaf
Bonga Mgcakeni, wat ook kaptein is van die span, is as die speler van die wedstryd aangewys. Dit is ook die eerste keer in die skool se geskiedenis dat die trofee deur die tweedespan verower word.







