Twaalfjarige se tennisbrein bring trofeesukses
Sy oë is op die groen tennisbal soos die laser van ‘n skerpskutter gefokus voordat hy met ‘n tipe elegansie die bal herhaaldelik oor die net slaan. Hy bly koelkop op die baan en het ‘n fokus op sy gesig wat ander 12-jarige tennisspelers nie sommer sal hê nie. Reuben de Klerk se houding op …
Sy oë is op die groen tennisbal soos die laser van ‘n skerpskutter gefokus voordat hy met ‘n tipe elegansie die bal herhaaldelik oor die net slaan. Hy bly koelkop op die baan en het ‘n fokus op sy gesig wat ander 12-jarige tennisspelers nie sommer sal hê nie. Reuben de Klerk se houding op en van die baan af getuig van ‘n respek en liefde vir tennis waar hy soos ‘n spons alles rakende tennis wil insuig.
Sy sukses op die tennisbaan het verlede maand ‘n groot hoogtepunt bereik toe hy vir die eerste keer die Growthpoint Super 8-toernooi gewen het. Hier het hy teen die land se top tennisspelers in sy ouderdomskategorie (o.12) gekompeteer en almal in sy pad uitgestof.
Reuben is tans onder die top 10 tennispelers in sy ouderdomsgroep in beide dubbel (5de) en enkelspel (6de). Hy het teen Gareth Igesund gespeel en hom met 6-4, 4-6 en 7-5 in ‘n drie uur lange stryd geklop.
Wat Ruben van sy teenstanders onderskei, lê in sy puik tegniek, maar ook in sy koelkophouding waar hy druk sonder moeite kan hanteer en takties baie sterk vir sy ouderdom is. Dit is dan geen wonder dat hy vir drie ure lank kon kophou nie. So sê sy deurwinterde tennisafrigter, Louis Bartlett, wat Reuben vir die afgelope ses jaar afrig.

“Ek voel dat ek en Reuben mekaar goed verstaan op die baan en ons dink ook baie dieselfde oor goed. Hy is ook altyd gereed en sit baie moeite in sy tennis in. Hy het ‘n goeie kop aan sy skouers en weet hoe om vas te byt en nie moedeloos te raak nie. Hy beheer sy emosies op die baan,” vertel Bartlett verder.
Reuben stem saam met hierdie stelling en noem dat sy liefde vir tennis ook ‘n groot rol in sy sukses speel.
“Die vlak van kompetisie is baie groot, so dit is belangrik om die tegniese dele reg te kry. Een van die lekkerste dele van tennis is om “rallies” te speel – en te wen,” sê hy met ‘n glimlag.
Volgens Reuben se ma, Sunet, het Reuben vir die eerste keer in April 2018 blootstelling by die Super 8 gekry en van daar af het hy gereeld teen die groot kanonne gekompeteer.
“Ons vertrou die Here om ons te lei met Reuben se tennis en die tempo aan te gee oor hoe hy vorder. Ons het hom nooit gedruk nie en hy het natuurlik gevorder tot waar hy nou is.”
Reuben, wat ‘n borgskap by Pro Kennex het, is ook onlangs genooi om later vanjaar vir tien dae ‘n oefenkamp in Duitsland by te woon om sy kennis en tegniek nog verder op te skerp.
“Dit is ’n groot geleentheid vir my om meer te leer. Op hierdie stadium fokus ek baie op my tegniek en ook beweging op die baan,” sê Reuben, wie se gunsteling speler Dominic Thiem is.
“Ek het plakkate van hom op my muur en geniet om hom te sien speel. Tennis is ‘n groot deel van my lewe.”
Wie weet, eendag kan Reuben dalk nog saam met Thiem speel. Niks is onmoontlik nie en vir hierdie tennisspeler is die toekoms vol kolhoue.



