Een van Potchefstroom Gimnasium se top rugbyspelers, Keenan Twigg, het die gulde geleentheid ontvang om sy land op die rugbyvelde van Georgië te verteenwoordig.
Hierdie matriekseun is een van min wat so ’n kans kry wanneer hy vir die Suid-Afrikaanse o.19-span in dié Noord-Europese land later vanjaar gaan uitdraf.
“Ek sien ongelooflik baie uit. Ek het regtig hard gewerk vanjaar en dit het alles vrugte afgewerp. Dit is iets wat ek nou al lank voor wag en dit het waar geword,” noem hy.

Twigg speel buitesenter en vleuel het die afgelope drie jaar in ‘n uitstekende rugbyspeler onder die afrigting van Bertus Pool in Gimmies se eerste rugbyspan ontaard. Sy groei is tot dusver fenominaal en daar word groot dinge van hierdie kragtige senter verwag. Hy het ook vanjaar vir die Luiperds se o.20-span gespeel wat ‘n groot prestasie vir ‘n leerling is.
“In die laerskool het Joey Warren my baie met my rugby gehelp. Op hoërskool was mnr. J.R. Jackson en mnr. (Bertus) Pool ook ‘n belangrike invloed. Om die Gimmietrui aan te trek was elke keer ‘n hoogtepunt. Die wedstryd teen Noordheuwel waar ek ‘n paar drieë in die NWU Prestigereeks gedruk het, was ook een van my beste wedstryde vir Gimmies,” vertel Keenan, wie se gunsteling speler die Springbok, Cheslin Kolbe, is.

Tussen al hierdie opgewondenheid skryf Keenan ook sy matriekueindeksamen en sal nie te veel op die rugbyveld kan spandeer voor die tyd nie. Vir eers sal die boeke ‘n prioriteit moet wees.
“Eendag sal ek graag professioneel wil rugby speel. Dit is die hoofdoel. As dit een ding is wat ek as ‘n rugbyspeler geleer het, is dit om nooit op te gee nie. My ma, Elmarie, was nog altyd daar vir my en ek moet ook vir haar dankie sê.”



