Op ‘n reënerige en nat Fanie du Toit Sportgronde het die NWU se klipharde verdediging, taktiese skopwerk en vasberadenheid vir UJ met 19-6 vanaand (2 Maart) geklop.
Die skare het hardlooprugby en ‘n bonuspuntwen verwag maar die toestande en goeie UJ verdediging het die NWU tot drie drieë beperk. Dit was ook ‘n wedstryd wat soms vir bakleiery tussen die twee spanne onthou sal word.
Vir die NWU het Chuiner van Rooyen, Ruben du Plessis, Eugene Hare gaan druk.
Na slegs vier minute is NWU heelagter, Chuiner van Rooyen oor, na losskakel, Evardi Boshoff die bal in die spasie geskop het.
UJ het daarna meer hulle voete na die vroeë NWU-aanslag gevind, en PW Steenkamp teken teken UJ se eerste punte met ‘n strafskop aan om die telling na 7-3 te skuif.
Steenkamp het die NWU mooi in hulle eie helfte met presiese taktiese skoppe gehou en seker gemaak dat UJ binne bereik bly.
Net toe die skare effens onrustig raak is die NWU oor na ‘n 5 meter skrum met stut, Ruben du Plessis, wat oorduik om die telling na 14-3 te skuif.
Dinge het klaarblyklik slegter vir UJ geraak toe NWU se linkervleuel, Eugene Hare, in die lug gespeel is. Mujabo Tatenda moes toe vir sy sonde 10 minute op die afkoelstoel spandeer.
UJ het kanse voor halftyd gehad om terug te veg, maar die NWU se verdediging het vir niemand teruggestaan nie om met ‘n 14-3 voorsprong na die kleedkamers vir halftyd te gaan.
UJ het eerste druk in die tweede helfte toegepas en verdien om nader met ‘n strafskop te kruip met toe Steenkamp weer suiwer tussen die mikke skop.
Photos: Barco Greeff
Die NWU kon net nie momentum in die eerste tien minute bou nie en na herhaalde strafskoppe is NWU stut, Ruan Swiegers met ‘n geel kaart afgestuur wat sake vir die tuisspan vermoeilik het.
Die NWU moes hulle verdedigings-skilde uithaal en vir alles wat hulle het keer dat UJ nie die drielyn oorgaan nie en na 60 minute het hulle hul goed van hul taak gekwyt.
Die tuisspan moes wel vir hulle derde drie sweet na ‘n goeie breek van Van Rooyen aan die regterkant van die veld. Die bal is na ‘n paar fases in Boshoff se hande en met ‘n goeie skoppie in die hoek, val Hare op die los bal om die telling na 19-6 te vat. Donges mis wel met sy doelskop teen die kantlyn.
‘n Bonuspuntdrie was nou in die NWU se visier met vyf minute oor en met elke greintjie van die toeskouers se ondersteuning het dit die tuisspan aangespoor. Die tyd het wel te vinnig uitgehardloop vir die manne in pers en hul sal nou momentum aan hul kant hê met ‘n week se rus voor hulle Maties op 16 Maart in Potchefstroom aanpak.
Punte:
NWU: 19 (14)
Drieë: Chuiner van Rooyen, Ruben du Plessis, Eugene Hare
Doelskoppe: Marco Donges (2)
UJ: 6 (3)
Strafskoppe: PW Steenkamp (2)










