SportSport

Gehok maar vol vegtersgees

De Beer beklemtoon ook dat hy altyd gemotiveerd is en by enige omstandigheid sal aanpas. Volgens hom bring dissipline hom waar hy moet wees.

2020 is tot dusver ‘n jaar van groot hoogtepunte en merkwaardige historiese oomblikke vir Potchefstroom se top professionele gemengde gevegskuns (MMA) atleet, Roevan de Beer.

De Beer was vanjaar die eerste Potch-gebaseerde EFC (Extreme Fighting Championship) vegter wat tydens EFC 84, aan een van die hoofgevegte deelgeneem het. Sodoende kon aanhangers hom regstreeks op Supersport sien. Ongelukkig het hy teen sy opponent, Sindile Manengela, in die eerste rondte verloor. Dit nadat hy drie van sy vorige gevegte gewen het.

“Ek is baie trots oor hoe die jaar begin het, met die dat ek my eerste main card geveg gekry het. Dit was een van my doelwitte wat ek vir myself gestel het.

“Ek het in die geveg ‘n klein oordeelsfout begaan, wat my van ‘n oorwinning ontneem het aangesien ek in beheer was,” noem De Beer terwyl hy tans weens die COVID-19 inperking sonder kompetisie by die huis is. “Ek het nou drie wenne en een nederlaag vandat ek ‘n gewigsklas opgeskuif het,” noem De Beer wat sy eerste drie professionele EFC-gevegte in ‘n ander gewigsklas verloor het. Net soos De Beer gewoonlik in ‘n hok veg, is hy nou ook in ’n spreekwoordelike hok tydens inperking en soos ‘n mens dié Potchefstromer ken, is dit iets wat hom nie sommer sal onderkry nie.

Volgens hom het die huidige inperking eers sy momentum gebreek, maar hy meen dat hy nou al goed aanpas. “Ek sal seker maak ek kry my momentum met my eerste geveg terug by EFC. Ek wil graag ‘n bekende gesig by die hoofgevegte bly. “Die oefening in lockdown gaan eintlik baie goed vir die doelwitte wat ek vir myself gestel het. Ek het 30 sessies ingesit in 10 dae en rus bietjie die 11de dag,” het hy verduidelik. De Beer beklemtoon ook dat hy altyd gemotiveerd is en by enige omstandigheid sal aanpas. Volgens hom bring dissipline hom waar hy moet wees.

“My doel vir die jaar, na lockdown, is om nog drie keer deel te neem en myself as ‘n hoofgeveg-vegter te bevestig. Ek wil ook van die beste vegters in my divisie bly. Ek sal aanhou hard werk daarvoor.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button