Vanjaar se Classic Clash tussen Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom sal nie op die geskeduleerde datum van 22-23 Mei plaasvind nie.
Dit nadat die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, voorgestel het dat sport of buitemuurse aktiwiteite nie in die tweede kwartaal sal plaasvind wanneer die skole uiteindelik weer heropen nie.
‘n Dokument van die Suid-Afrikaanse Onderwys Unie (SAOU), wat die Herald onder oë gehad het, noem ook dat skolesport eers in die tweede kwartaal gestaak sal word.
Dit beteken inderwaarheid dat die rugbyseisoen sodoende afgestel is, aangesien daar ook nie vanjaar ‘n Cravenweek sal plaasvind nie.
Die vroegste wat skolesport beoefen kan word is in die derde kwartaal.
Een van die groot kommerpunte is dat skolesport en veral ‘n groot sportnaweek soos Gimmie-Volkie, groot skares lok. Weens die Covid-19 sitausie kan groot byeenkomste nog nie plaasvind nie.
Volgens albei skole is daar nog nie ‘n definitiewe antwoord of die Classic Clash vanjaar enigsins plaasvind of dat daar ‘n nuwe datum daarvoor gekry sal word nie.
Die hoof van Potchefstroom Gimnasium, mnr. Roelof Oosthuizen, het by navraag gesê dat die Classic Clash weens die voorlopige regulasies van die onderwysdepartement, nie in Mei sal plaasvind nie. Daar is wel hoop dat die Gimmie-Volkie naweek steeds later vanjaar kan plaasvind. “Dit is nog nie amptelik dat daar geen skolesport gaan wees nie, maar die kanse is goed. Ek sal wel graag wil hê dat die Classic Clash later vanjaar, indien moontlik, steeds sal gebeur,” het hy benadruk.




