Die huidige Luiperds en NWU Varsitybekerafrigter, André Pretorius, is sinoniem met Noordwes Rugby as afrigter op beide skoolvlak waar hy by Volkies afgerig het, as ook koshuisrugby saam met Patria en klubrugby by Potchefstroom Dorp Rugbyklub. Pretorius se toetrede tot die kontrei het eintlik al in 2012 gebeur toe die Springbok losskakel ‘n kontrak met die Luiperds Rugbyunie geteken het en sodoende ‘n paar uitstekende vertonings op Olënpark gelewer het. Pretorius het in daardie jare onder sy voormalige spanmaat en assistant afrigter, Jorrie Muller, en hoofafrigter Leon Boshoff gespeel wat hom afgerig het. In ‘n jong span het hy op losskakel ervaring en kennis gebied. Pretorius het ook saam jong belowende name soos skrumskakel, Johann Laker, Edgar Marutlulle (haker), Stompie de Wet (flank), Allistair Kettledas (vleuel) en die Namibiese vleuel, Danie Dames, onder andere gespeel. Dames, wat ook Namibië by die 2011 Wêreldbeker verteenwoordig het, was een van die diamante in ‘n opwindende Luiperdsspan.
Die Potchefstroom Herald het wyd en syd oor Pretorius se koms na die Luiperds as ook sy vaardighede op die veld geskryf. Natuurlik ook omdat min Springbokspelers noodwendig na die kleiner unies vir speeltyd gaan. Dit was ‘n trekpleister vir die Luiperds en ook die begin van ‘n lang assosiasie met die unie en Potchefstroom waar Pretorius steeds vandag saam sy vrou en kinders woon. In totaal het Pretorius in 39 wedstryde vanaf 2012-2014 vir die Luiperds uitgedraf en 445 punte aangeteken. Hy het ook kortliks in daardie tydperk vir die Franse D2 klub, US Carcasonne in 23 wedstryde, gespeel. Hier is uittreksels van die berigte wat in 2012 verskyn het.





