SportSport

Kaap wag vir die NWU se ‘Big Show’

My doelwit is om aan die einde van volgende jaar in WP se Curriebekergroep te wees en ook vir die provinsie in die Supersport Uitdaagreeks te speel.

Geleenthede kom soms op die perfekte tyd.

Vir die NWU en Luiperds se vlugvoetige en talentvolle senter, Evardi Boshoff, was die kans om in die Kaap rugby te speel en eendag die WP trui oor sy kop te trek, net te groot om mis te loop.

Boshoff, of Big Show, soos wat hy onder sy spanmaats bekend is, trek die komende seisoen na Kaapstad vir volgende jaar se Varsitybeker waar hy die pers van die NWU vir die wit en blou strepe van die UCT-Ikeys se Tiere sal ruil. Boshoff het ‘n kontrak geteken nadat hy die NWU vir drie jaar in die Varsitybeker en ook die Luiperds in die Supersportuitdaagreeks en Curriebeker verteenwoordig het.

Dit is geen wonder dat die voormalige Hoërskool Lichtenburg rugbyster die aandag van ander unies en universiteite getrek het nie. Boshoff was een van die NWU en Luiperds se top spelers en moes verskeie kere uit posisie in die span speel weens beserings. Hy was ook een van die beste verdedigers en altyd gevaarlik op die aanval. Hy is dus ook in 2019 as die Luiperds Rugbyunie se agterspeler van die Jaar aangewys.

 

Boshoff is opgewonde oor die skuif, maar weet ook dat die NWU en Luiperds ‘n groot rol in sy ontwikkeling gespeel het,  iets waaroor hy altyd dankbaar sal wees.

“Dit is ‘n groot geleentheid vir my om te skuif. Dit is belangrik om nuwe uitdagings te hê nadat ek drie jaar by die NWU was, asook om nie in ‘n gemaksone te kom nie. Hierdie skuif kom op die regte tyd omdat ek lus is vir nuwe uitdagings,” noem Boshoff.

“Ek sal my tyd in Potch vir niks verruil nie. Dit was die lekkerste tyd van my lewe. Ek het lewenslange vriende gemaak en goeie tye by Puk Dorp Manskoshuis gehad. Dit is hartseer om te gaan. Ek het ook baie by die afrigters geleer.

“My doelwit is om aan die einde van volgende jaar in WP se Curriebekergroep te wees en ook vir die provinsie in die Supersport Uitdaagreeks te speel. Ek sal graag later ook ‘n WP-kontrak wil teken,” vertel hy.

Boshoff studeer komende jaar aan die Universiteit van Kaapstad vir ‘n diploma in sportbestuur, nadat hy die vorige drie jaar ‘n graad in menslike hulpbronbestuur en nou met ‘n diploma in besigheidstudies aan die NWU besig is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button