Vir die eerste keer in Noordwes Krieket se tradisieryke geskiedenis is die Skeidsregter van die Jaar-toekenning in ‘n vrou se bekwame hande.
Madri van Staden is die afgelope week hierdie eer toegeken na ‘n uitstekende jaar op die veld waar sy elke aspek van die spel fyn dopgehou het en regverdige beslissings in ‘n kompeterende en uitdagende omgewing gegee het.
“Dit was ‘n groot verrassing om my naam op die toekenning te sien. Ek het glad nie verwag om die toekenning te kry nie,” vertel Madri, wat haar eerste vlak 1 skeidsregtereksamen in Februarie 2017 gaan skryf het toe sy uitgedaag is om te sien hoe goed haar kennis van krieketwette is.
Volgens Madri, wat buiten skeidsregting ook al vir jare telling vir Noordwes Krieket hou, benodig ‘n goeie skeidsregter verskillende kwaliteite en ‘n baie goeie temperament.
“Om ‘n goeie skeidsregter te wees bestaan nie net uit een faset nie. Dit behels aspekte soos in-diepte kennis van die wette van krieket, kennis van die betrokke kompetisie se bywette (playing conditions), konstante en gelykmatige toepassing van die wette in alle wedstryde, soms senuwees van staal, ‘n koelkop in blitsig veranderende omstandighede en natuurlik ook goeie verhoudings met jou kollega, die spelers en die ander rolspelers soos afrigters, spanbestuurders en tellinghouers,” verduidelik sy.

Madri se liefde vir die spel het al van jongs af begin toe sy as laerskooldogtertjie toetskrieket saam met haar oupa op die televisie gekyk het. “Dit was die dae net toe SA weer teruggekeer het na die internasionale arena. Hy het vir my baie van die basiese wette verduidelik en ‘n liefde vir die spel se tegniese punte geleer.
Ek wou bitter graag op laerskool speel, maar het nie die geleentheid gehad by die skool waar ek was nie, toe word ek maar ‘n tellinghouer,” noem Madri. Sy was regdeur haar skoolloopbaan ‘n tellinghouer en het vanaf 2008 vir NWU-Puk 1 telling gehou.
“Ek fokus nou op skeidsregting en ek glo enige persoon wat regtig voluit gaan vir iets, wil graag die hoogste sport bereik. Vir my as skeidsregtersal dit beslis wees om op die nasionale paneel te kom, op die IKR (Internasionale Krieketraad) se paneel en dan in ‘n Wêreldbeker of die Statebondspele as skeidsregter betrokke te wees,” vertel Madri.
Hierdie ywerige krieketliefhebber meen ook dat krieket juis die krag het om mense te verenig.
“My gunsteling aspek van skeidsregter wees is beslis die mense wat deel is van die spel. Maak nie saak waar jy vandaan kom, hoe jy lyk of watter taal jy praat nie, op die krieketveld maak die ‘game’ ons almal gelyk, almal is daar vir dieselfde doel en dit verenig ons. Geen individu is groter as krieket nie.”

Madri streef steeds daarna om elke keer ‘n beter vertoning te lewer en aan haar skeidsregterloopbaan te werk. Haar doel is om krieket op te bou en te dien. “Die moeilikste aspek is sekerlik om absolute konsekwentheid aan die dag te lê. Om dit te bereik moet jy absolute vertroue in jou kennis van die wette en spelreëls hê. Daar is altyd fasette van jou umpiring waaraan gewerk kan word, om dit te identifiseer en te onthou ons is hier om krieket te dien en uit te bou is die hoofdoel.”




