
Potchefstroom Gimnasium se kookwater swemmer, Joël Kriek, het sy staal die afgelope tyd in die water gewys en is sodoende as lid van Swem Suid-Afrika (SSA) se 2020/2021-oefengroep gekies.
Kriek se prestasies op provinsiale vlak het die keurders goed genoeg beïndruk en hierdie onverwagse prestasie is iets waarop dié gr. 8-leerder trots is.
“Jy word gekies op grond van die tyd wat jy swem vir ‘n spesifieke slag en die plekke wat jy by provinsiale kompetisies behaal. Dit was onverwags, maar ek is baie bly en baie opgewonde om deel van die oefengroep te wees,” sê hy.

Die swemgogga het hierdie 14-jarige reeds op die ouderdom van vier jaar gebyt.
“My beste prestasies die afgelope tyd was ‘n oorwinning op provinsiale vlak in Pretoria (Februarie vanjaar) met die 200 meter wisselslag en 4de met die 100 meter rugslag op nasionale vlak in April 2019,” sê hy.




