Vir enige jong hoërskool krieketster is daar baie drome van ‘n lewe in krieket met al die T20-ligas, nasionale erkenning en die kans om vir die Proteas uit te draf.
Vir meeste is daardie geleentheid nie beskore nie, terwyl ander unieke paaie loop om die krieketpassie in hul hart uit te leef. Die voormalige Potchefstroom Gimnasium en huidige NWU kolwer, Lourén Steenkamp, is een van hierdie spelers wat na skool nie die normale roete gevolg het nie en eerder ses maande in Engeland gaan krieket speel het.

Daar waar alle spelers bewys wat in hulle steek met koue toestande, ‘n magdom krieketwedstryde en ‘n nuwe omgewing waar baie in selfs die kleiner ligas geleer kan word. Vir Steenkamp, wat as een van Gimmies se top spelers in die afgelope dekade bestempel kan word, was dit ‘n kans om sy vaardighede as speler en mens in die Bradfordliga uit te brei.
Steenkamp het in sy tyd in Engeland in 2016 vir verskeie spanne, naamlik Hopton Mills CC, Bradford Royals, White Rose (Sunday League), Crossbank Methodists (ses spelers per span) sowel as die WSX World Xl gespeel.

“Ek is in gr. 11 en gr. 12 deur verskeie werwingsagente in Groot Brittanje genader om vir klubs daar te gaan speel. Ek was nie 100 persent seker wat ek wou gaan studeer nie en dit, asook ‘n paar ander bykomende faktore, het my laat besluit om die kontrak by Hopton Mills vanaf April tot September 2016 te aanvaar.
Ek het die jaar by Potchefstroom Dorp klubkrieket gespeel en in SA se af seisoen in Engeland gaan speel,” verduidelik hy.
Dit is in daardie tyd in Engeland waar hy sy spel bevorder het en baie uit hierdie ervaring geleer het.
Vir Steenkamp was die afgelope paar seisoene vir die NWU en NW Dragons goed en hy onthou veral drie beurte wat vir hom uitgestaan het.
Dit sluit in ‘n briljante 100* teen NMU Madibaz van slegs 63 balle om sy span in die Varsity Krieket-toernooi na ‘n oorwinning in die groepsfase te stuur. ‘n Verdere beurt wat regstreeks op Supersport uitgesaai is, het ook almal se oog gevang. Steenkamp het daardie aand teen UWK ‘n aanvallende 94 van 58 balle geslaan.
“Veral die wedstryd teen UWK op Senwes met die Varsity Krieket atmosfeer was spesiaal. Die studentegees en toeskouers maak dit ‘n ongelooflike belewenis,” noem Steenkamp.
Verder het hy ook vir die Dragons teen Nottingham (een van die groot graafskappe in Engeland) 100 van 103 balle in ‘n 50 beurt wedstryd geslaan. Dit is maar net een van die talle honderdtalle wat die regterhandse kolwer in die afgelope vyf jaar gemoker het.

“My beste ervaring was sekerlik die wedstryd toe Hopton Mills teen Hartshead Moore op 7 Mei (een dag voor my verjaarsdag) gespeel het. Ek het op nommer 3 gekolf en 171* van 114 balle geslaan.

Die ander wedstryd was sekerlik Whiterose teen Indus Ghari (Chefgenie semi-finaal),” onthou hy.
Na ‘n paar goeie vertonings is hy ook genooi om aan die einde van die seisoen vir die SA Xl te speel. Hy noem ook dat krieket baie verskil in Engeland as in Suid-Afrika.
“Daar is ‘n aansienlike verskil en as jy gaan, moet jy nie gaan met die idee dat jy daar net groot lopies gaan maak nie. Blaaie en omstandighede verskil. Die weer is wisselvallig met gereelde reënonderbrekings.
In April wag jy baie keer eers dat die sneeu smelt en dan word daar gespeel. Dit was ook vreemd om laat te begin speel tot 22:00 in die aand. Engeland is verslaaf aan krieket en daar is baie klubspanne, maar hul oefen nie soos in SA op klubvlak nie. Die Premier League en graafskappe doen wel,” verduidelik hy.
Steenkamp glo wel dat klubkrieket iets is wat hy baie in Suid-Afrika geniet waar hy al vir beide Potch Dorp en die NWU gespeel het.
“Potch Dorp is ‘n klub van ‘broers’ met die beste gees en ek het my tyd by hulle vreeslik geniet.
Die skuif na die NWU was aanvanklik vreemd om skielik teen manne te speel wat eers jou spanmaats was. By die NWU moes ek ook eers by Puk 2 begin en my plek oop speel. Die Puk se oefenstruktuur en tye is puik en daar is ook baie meer kompetisie geleenthede soos die klubkampioenskappe en USSA-week,” deel hy.
Alles sou wel nie so in plek vir Steenkamp geval het as hy nie krediet aan al die afrigters en spanbestuurders gee wat sy loopbaan gevorm het nie.
“Al my afrigters het iewers in ‘n mindere of meerdere mate ‘n invloed gehad op my as speler, hetsy motiverend en/of afrigtingsgewys. Van hulle het werklike vriende geword op wie ek kan steun.
Hulle sluit in Oom Boet Hurn (voorskool – gr. 7 by Baillie Park), Leonard Lemmer (Baillie Park), Erik Wyma (Gimmies), Braam de Villiers (Gimmies), Oom Christo Gous en Claude April (Rural), Gordon Parsons (Boulwerk), Conrad de Swardt, Walter Fokkens, Niel Bredenkamp (almal NWU) en Wandile Makwetu (Lions Akademie).”
Tans bevind Steenkamp hom wel in ‘n frustrerende fase van sy krieketloopbaan met die Covid-19 pandemie wat krieket vir eers stopgesit het. Verder het hy ook nie ‘n nuwe kontrak by die NW Dragons gekry vir die komende 20/21 seisoen nie.
“Ek het egter nog geensins my kolf weggepak nie en beplan om elke kans wat ek kry voluit te gebruik. Geleenthede om by ander provinsies te gaan speel lyk aanloklik, maar ek studeer nog by NWU en beplan om eers my studies te voltooi en dan verder te beplan.
Huidiglik sien ek teleurstellings eerder as uitdagings en motivering.
“Ek vertrou op my Hemelse Vader vir my toekoms. ‘n Seisoen of meer in Engeland, selfs Nieu-Seeland en Australië is ook ‘n toekomsdroom.”
As die krieketseisoen weer begin kan ondersteuners maar seker wees dat daar weer die volgende bekende prentjie op krieketvelde sal wees waar die bal van Steenkamp se kolf af na die grens toe snel.
Soos gewoonlik sal hy sy kolfhelm afhaal, sy kolf lig en boontoe na Sy skepper kyk: Soli Deo Gloria, maak nie saak vir watter span hy in die wêreld speel nie.



