Rugby is reeds sedert kindsbeen in murg en been deel van die voormalige Wes-Transvaal en Puk agtsteman en flank, Don Berry, se lewe.
Berry het in die Stellalandse dorp, Koster, grootgeword en skoolgegaan en toe een van die groot Mielieboere legendes van die tagtiger en vroeë negentigerjare geword. Hy het 104 keer in die groen trui met die rooi strepe uitgedraf.
Op die ranglys van meeste wedstryde vir Mielieboere/Luiperds is Berry sewende, net agter Johan Claassen se 105 wedstryde vir die provinsie.
Dit is nie verbasend as ‘n mens luister met watter geesdrif en trots Berry gespeel het nie.
“In daardie jare het ‘n mens rugby gespeel omdat jy ‘n passie gehad het. Ons het nie geld gekry nie – ek bedoel ek onthou hoe prof. Johan Claassen destyds vir ons R2 gegee het as ‘n wedstrydfooi om drankies te koop,” lag hy.
“Een van die trotsste oomblikke was beslis om vir meer as 100 keer vir Wes-Transvaal en ook teen die All-Blacks en Wallabies se toerspanne te kon speel. Teen die All-Blacks het ons net met 18-24 op Olënpark verloor. Ons kon net sowel gewen het,” onthou hy.
Rugby is sinoniem in die Berry familie – Don se seun Doynton speel al ‘n klompie jare vir Potchefstroom Dorp Rugbyklub op vaskopstut, terwyl sy pa en oorlede broer ook ‘n kleurvolle rugbygekiedenis het.
“Ek het by Laerskool en Hoërskool Koster skoolgegaan. Afrigters soos Fourie Roux, Daan Seymore en Lukas Luus het ‘n groot rol in my ontwikkeling gespeel. In daardie dae het ons in die oggend ‘n skoolwedstryd gespeel en in die middag vir Koster in klubrugby verteenwoordig. Flank in die oggend en sommer heelagter in die middag – daar waar ‘n plek was het jy gespeel,” vertel hy.
Berry het in 1980 vir die Puk begin speel en in 1981 die Puk en Wes-Transvaal se o.21-span as kaptein gelei. Hy het toe sy debuut vir die seniorspan in 1983 gemaak.
Berry se oë glinster en hy kry ‘n glimlag om sy mondhoeke as hy terugdink aan die gloriejare van die Mielieboere in die tagtigs toe hy teen van die land se bestes op Olënpark uitgedraf het.

“Manie Spamer was ons afrigter en ons het dit reggekry om die Blou Bulle met 9-8 te klop. Manie was ‘n uitstekende afrigter, die beste onder wie ek gespeel het,” vertel Berry.
Manne soos Springbokke Tiaan Strauss, Uli Schmidt en Flippie van der Merwe het gereeld op Olënpark kom ‘kuier’. Die einste Van der Merwe het hom met die vuis in die losgemaal bygekom en toe is daardie insident voorbladnuus in die Volksblad.
“Ek het die bal uit die losgemaal probeer haal en toe ek weer sien word ek met die vuis geslaan. Die koerant het my nog gekontak om te hoor of ek ‘n klag gaan lê, maar ek wou nie, want om fisies te raak was deel van die spel,” lag hy.

Berry het in Luiperdsspanne saam groot manne soos Gert Smal en Chris Grobler in ‘n lostrio gespeel wat dinge vir die opposisie so moeilik as moontlik gemaak het.
“Ouens soos Tiaan Strauss, Burger Geldenhuys en Chris Oosthuizen was van die hardste manne teen wie ek gespeel het.
“Ek het in daardie dae nou en dan die opposisie gebyt om hulle so ‘n bietjie te intimideer. My mondskerm was so ontwerp dat ek steeds deur dit kon byt. Rugby was toe baie anders,” meen hy.
Berry woon tans in Miederpark en is in die motorhandelaarsbedryf betrokke, waar hy karre koop en verkoop. Op naweke is hy ook gewoonlik ‘n bekende toeskouer by sy seun, Doynton, se wedstryde vir Potch Dorp.

“Die klub het verlede jaar vir my ‘n bottel brandewyn gegee as een van die klub se beste ondersteuners. Dit is vir my lekker om my seun te ondersteun en te sien hoe hy rugby geniet.”
Rugby is nou maar net in die Berry’s se murg en been – iets onlosmaaklik.

Don het juis onlangs gehoor dat hy oupa gaan word. Daar is dalk ‘n kleinkind op pad wat ook net so baie van die ovaalbal sal hou.




