SportSport

Luiperds onlosmaaklik deel van Mokuena se rugbystorie

Dit is op die harde velde van Olënpark waar Mokuena geblom het en weer die rugbyoë van die land op hom gehad het.

Voordat Jonathan Mokuena se SA Sewes-drome waar geword het, moes hy eers ‘n Potchefstroomse pad stap om sy rugbyloopbaan nuwe lewe te gee – daardie pad het hom in 2003 na die Luiperds toe geneem.

Dit is op die harde velde van Olënpark waar Mokuena onder die afrigting van Franco Engelbrecht geblom het en weer die rugbyoë van die land op hom gehad het.
“Dit was ‘n goeie jaar in 2003 en dit nadat ek amper rugby opgegee het. Franco het my gebel en gevra of ek belangstel en die res is geskiedenis,” vertel Mokuena, wat in 2006 na drie jaar sy laaste wedstryd vir die Luiperds teen Boland gespeel het.

12 jaar nadat hy sy Luiperdsdebuut gemaak het, het hy die rol van die Luiperds se hoofafrigter aanvaar en in vier seisoene sy naam met twee Curriebeker Eerste Divisie-eindstryde gemaak. Ongelukkig kon hy nie een keer die beker lig nie, maar hy is nog steeds dankbaar vir die geleentheid om kennis terug te gee by die Luiperds – nes hy jare gelede as speler ‘n nuwe kans gegun is.

“Om my professionele afrigtingsloopbaan by die Luiperds te begin was spesiaal omdat ek geweet het met watter mense ek sou werk en dat ‘n mens ‘n kultuur kan skep as dinge in plek gesit word. Ons kon nie die Griffons in altwee jare in die finaal klop nie, maar dit was ‘n voorreg om konsekwent en mededingend met ‘n jong span te wees.”

Vir Mokuena was dit lekker om die Luiperds af te rig omdat die spangees altyd goed was. “Dit is altyd ‘n gedugte en gehegte span. Ons kon altyd iets aanmekaar sit om die span se spangees te hou, soos byvoorbeeld ‘n potspelkompetisie of ‘n dress up,” vertel hy.

Die voormalige NWU-Pukke en Luiperds afrigter, Jonathan Mokuena
Die voormalige NWU-Pukke en Luiperds afrigter, Jonathan Mokuena

Vir die man met die kenmerklike spierwit glimlag en donkerswart lokke het rugby al van jongs af by Hoërskool Voortrekker in Kaapstad begin.

“My beste rugbyherinneringe was om die skoolkreet te doen. Die hele skool raak stil en almal luister na jou. Dit was ook spesiaal om deel van die spanne te wees wat vir sowat 10 jaar onoorwonne was.”

Mokeuna is ook vir die WP o.17 Akademieweek in Vanderbijlpark gekies en hy was toe ook in die wenspan vir daardie week.
Buiten rugby het hierdie voormalige flank en agtsteman ook interessante stokperdjies waaraan hy aandag gee soos kitaar en tafeltennis.

“Ek kan kitaar speel, maar dan moet ek sing. Ek kan nie speel en iemand anders sing nie. Ek was ook ‘n provinsiale tafeltennisspeler en ek dink om moontlik weer daaraan aandag te gee.”

Mokuena se top 5 rugbyoomblikke

*Kaptein van Springbok Sewes benoem
*2006 Dubai Sewestoernooi te wen
*2005 se England wen met Springbok-Sewes
* 2009 vir die Royal Bafokeng XV gekies te word om teen Britse en Ierse Leeus te speel (hy is ook as speler van die wedstryd aangekondig)
* 2016 Varsity Cup wenner met NWU-Pukke as afrigter.

Mokuena is ook die afgelope paar jaar bekend vir sy werk op die TV by Supersport waar hy kommentaar oor rugby lewer.

Jonathan Mokuena in sy tyd as ‘n speler. Hier het hy vir die Royal-XV teen die Britse en Ierse Leeus in Rustenburg uitgedraf. Foto: News24

“Die televisiewerk is ‘n geleentheid om mense oor die spel op te voed en ek hoop ek doen ‘n goeie werk as mense na my luister,” sê hy beskeie.

Die familieman se motivering in die lewe is sy vrou Anthea, kinders Joy (16), Gemma (10), Zena (7), asook sy familie.

“My sukses is hulle sukses en hulle s’n myne. My vrou en kinders is vir my alles. Dit is lekker om te sien watter vreugde ek in hulle lewe kan bring,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button