Toe die voormalige Gimmies eerstespan krieketkaptein en huidige Warriors en Proteas snelbouler, Marco Jansen (20), die grootste krieketkontrak van sy jong loopbaan losgeslaan het, was hy rustig aan die slaap.
So rustig was Marco oor die 2021 Indiese Premierliga veiling waarin hy verlede Donderdag gekortlys was, dat hy besluit het om die afwagting te systap en eerder te rus. Toe Marco in droomland was, het die Mumbai Indians hom vir 20 lahks (sowat R400 000) gekoop. Sodoende is hy slegs een van twee Suid-Afrikaners uit 14 op die kortlys wat gekies is.
Die ander speler was Chris Morris wat vir ‘n rekordbedrag van 16.5 Crore (R32.7 miljoen) gekoop is. Marco maak ook geskiedenis as die eerste Potch Gimmie wat vir die IPL gekies is en is tekenend van ‘n ongelooflike tydperk waar hy ook vir die Proteas gekies is.

Marco se pa, Koos, het hom met die goeie nuus wakker gebel en kort voor lank was van sy Warriors spanmaats in Durban by hom om hom geluk te wens en hom met die goeie nuus uit die vere te kry. Marco doen tans diens vir die Warriors in die T20 uitdaagtoernooi en beaam dat hy nog nooit so lekker wakker geword het nie.
“Ek is ongelooflik bly om gekies te word. Dit is eintlik snaaks want toe die hele veiling gebeur het, was ek aan die slaap. Ek wou dit nie gekyk het nie en toe het die ouens van die Warriors my wakker gemaak en my ouers my wakker gebel. So ek was op ‘n lekker manier verras toe ek die goeie nuus hoor,” vertel hy.
Die jaarlikse Indiese Premierliga T20 toernooi gaan vanjaar in April plaasvind. Dit is die grootste en gesogste in die T20 krieketkarnaval en om in hierdie toernooi te speel moet een van agt franchisespanne spelers koop. Gelukkig vir Marco het die verdedigende kampioene ‘n oog op hom gehad en vir die jong man ‘n geleentheid gegee.
“Ek sien baie uit en is baie opgewonde oor die uitdaging. Ek het nie baie doelwitte vir die IPL nie, omdat ek nie weet of ek baie speelkans gaan kry nie. As ek ‘n geleentheid kry sal ek dit met albei hande aangryp. Dit is ongelooflik dat ek daarheen kan gaan, om eerlik te wees.
“My pa is my grootste mentor saam met my broer, Duan. Ons bespreek baie ons doelwitte en gesels oor krieket. Gordon Parsons is ook een van my groot boulmentors. Die res van my familie speel ‘n groot rol om my te motiveer,” noem hy.
Die Mumbai Indians se operasionele krieketbestuurder en voormalige Indiese snelbouler, Zaheer Khan, was ook vol lof vir Jansen. “Ons was verbaas dat die ander spanne nie hoër vir Marco gebie het nie. Marco is ‘n talentvolle jong speler en ons sal hom graag geleenthede wil gee,” het hy in ‘n video-onderhoud genoem.




