SportSport

Eugene Hare: Mielieboere se kaptein duisend

"Van my beste herinneringe was die Kavaliers van Nieu-Seeland (stormreën net voor afskop) sowel as Australië en Engeland wat in Potch kom speel het. Daardie internasionale wedstryde was besonders en ons was kompeterend."

As ‘n mens na die gloriedae van die Mielieboere in die tagtigs en vroeë negentigs kyk, dan is daar gewoonlik een naam wat gereeld op ‘n spanlys ingekerf is. Dit is niemand anders as die voormalige Wes-Transvaal skrumskakel, dr. Eugene Hare, wat altesaam in 176 wedstryde en ’n rekord 129 as kaptein vir die Mielieboere uitgedraf het.

Hare, wat tans by die Blou Bulle Rugbyunie as hoof uitvoerende beampte (HUB) dien, is nog altyd sinoniem met rugby in Noordwes en het as speler, afrigter en hoof uitvoerende beampte die Luiperds Rugbyunie met eer gedien. Klem moet gelê word op dien, want Hare is ‘n leier, leermeester en dienskneg van rugby in Suid-Afrika in enige posisie wat hy beklee. Vir Hare gaan dit om die spel in alle opsigte te bevorder.

“Dissipline, integriteit, eerlikheid en omgee vir jou personeel was altyd my lewensmotto en ek pas dit nog daagliks toe. Ek bestuur nie rugby om gewild te wil wees nie, ek is deel van die groter masjien wat suksesvol moet wees. Ek moet ‘n verskil in mense (rugbyspelers) se lewens maak. Ek moet hulle voorberei vir die lewe, want almal word nie Springbokke nie,” beklemtoon Hare.

Dit is daardie dissipline en integriteit wat Hare ook op en van die veld af in Potchefstroom ten toon gestel het. Hare se eerste wedstryd vir Wes-Transvaal was in 1985 teen Vaaldriehoek en sy laaste teen Transvaal in 1996. In daardie 11 jaar was daar talle hoogtepunte in die groen en rooi trui wat nou nog na aan sy hart lê.

“Ek het my jare as Mielieboer geniet en ons teenstaanders het nie Potch toe gekom om sommer gou te kom wen of so nie. Die sogenaamde groter unies (deesdae franchises) het geweet hulle was in Potch omdat ons nie ‘n duim vir hulle teruggestaan het nie. Natuurlik was Olënpark se harde oppervlak en die lojale ondersteuners (veral die studente) ons groot bondgenote. Van my beste herinneringe was die Kavaliers van Nieu-Seeland (stormreën net voor afskop) sowel as Australië en Engeland wat in Potch kom speel het. Daardie internasionale wedstryde was besonders en ons was kompeterend,” meen Hare.

Hare se 176 wedstryde vir een unie is iets wat steeds die oë laat rek in rugby, veral omdat beserings baie keer spelers se loopbane kortknip. “Ek het al my jare baie aandag gegee aan my fiksheid en kondisionering. Dit het gemaak dat ek redelik beseringvry was en werklik min wedstryde gemis het,” verduidelik Hare, wat as kaptein baie keer die vaderfiguur vir die studente in Wes-Transvaal se span was.

“Aangesien ek van laerskool af redelik presteer het, was die kapteinskap reeds van o.9 af aan my toegeken. Ek het maar met die tyd saam dit aanvaar en altyd probeer om deur voorbeeld te lei. Kapteinskap verg baie dissipline op en van die veld en ek het seker gemaak ek en my spanmaats ken die reëls van die spel en tree daarvolgens op,” sê hy.

Eugene Hare is tans die hoof uitvoerende beampte van die Blou Bulle Rugbyunie.

Om Hare se nalatenskap op Wes-Transvaal en Luiperds Rugby te verstaan, kan ‘n mens net kyk hoe rugby sedert sy geboorte in sy DNS ingeprent is. Hare se liefde vir rugby het in die klein dorpie Venterstad in die Noordoos-Kaap begin waar hy heel moontlik met ‘n bal in sy hande gebore is.

“Vandat ek my verstand het, het ek bal gespeel. Rugby, tennis, krieket en gholf. My pa was self ‘n ywerige sportman en hy het gereeld saam met ons gespeel. My broer is 18 maande jonger as ek, so ons het omtrent net ‘n bal as speelding geken. Ek was baljoggie by die Dorpspan, so na die skool se oefening het ek sommer vir die Dorp-span gewag om te oefen. Daar het ek balle gevang, geskop en soms sommer saam geoefen. Ek was dan ook die eerste leerling ooit wat uit Venterstad wat Laerskole Cravenweek (1974) gespeel het. Ek het ook in 1978 en 1979 vir Noordoos-Kaap Cravenweek gespeel,” vertel Hare.

As jong seun was die Springbok, Dawie de Villiers, Hare se groot held. Hy het ook opgekyk na elke onderwyser wat ‘n saadjie in sy loopbaan geplant het.

“As student het Ben Calitz, my afrigter en koshuisvader, my soos een van sy seuns gementor. Ek dink egter in Potch het prof. Manie Spamer die grootste rol in my rugbyloopbaan gespeel. Hy het my Potch toe gelok vanaf Oudtshoorn, waar ek diensplig gedoen het, toe hy uitvind my vrou is ‘n student op die PUK. Hy is en was nie net ‘n afrigter nie, maar ook ‘n mentor, studieleier en later ‘n vriend. Ons ondersteun mekaar vandag nog en is steeds by projekte betrokke. Ek dink ook aan Kassie Karstens en James Stoffberg as mentors,” vertel Hare.

Hare het sowat drie jaar na sy uittrede as speler besluit om in afrigting sowel as rugbyadminstrasie ‘n verskil te maak – iets waarvoor hy nog steeds groot ywer het. Sy betrokkenheid by Luiperds Rugby het van 1999-2012 gestrek wat verskeie poste soos hulpafrigter by die Luiperds seniorspan sowel as HUB vanaf 2006 ingesluit het. “Ek is vir die Wes-Transvaal Laerskole bestuur gekies en as Cravenweek afrigter vanaf 1999-2001.

Later ook as vise-president by Wes-Transvaal, spesifiek vir Spelontwikkeling. In 2006 het ek deeltyds uitgehelp toe die destydse HUB bedank het. James Stoffberg (destydse Luiperds president) het my versoek om uit te help. In die oggende was ek skoolhoof by Laerskool President Pretorius en na my take daar het ek die Luiperds bestuur,” onthou Hare. Na 22 jaar in die onderwys, het hy sedert 2006 voltyds as HUB by die Luiperds gedien.

Natuurlik was daar ook nog ‘n paar aanpassings toe die Blou Bulle in 2012 aan Hare se deur kom klop het.

Eugene Hare saam sy seun, Eugene by sy gradeplegtigheid. Sy seun is tans by die Luiperds as speler betrokke.

“Om deel te word van een van die beste en grootste rugbyunies in die wêreld, het tot gevolg gehad dat my uitkyk ten opsigte van professionele rugby en die bestuur daarvan totaal verander het. Die belangrikste vir my is om deel te kan wees van ‘n speler wat van die skoolbanke, deur ons sisteme gaan en eendag ‘n Springbok word. Om die wat dit nie maak nie in ‘n ander rigting te kan help.

Ek glo ook rugbypolitiek is nie goed vir die spel nie en dat ego’s baie mense betrokke in rugby, se ondergang beteken,” verduidelik Hare sy standpunt.

Om kop skoon te hou en van sy werk af te skakel, is Hare ook gereeld op die gholfbaan te sien waar hy by verskeie gholfdae soms ook ou kennisse raakloop. “Ek speel graag gholf. Soveel as wat ek moontlik kan en darem nog van ‘n 7 voorgee af,” beaam hy.

Hare se positiewe invloed in die spel sal aanhou groei met die hoeveelheid talent in Suid-Afrika wat op alle vlakke op die voorgrond tree – iets wat hom die geleentheid gee om jaar na jaar ‘n verskil te maak.

“Ek glo die Here het ‘n plan in elkeen van ons se lewens. Gee daarom elke dag jou beste en maak ‘n verskil in ander mense se lewens, maak nie saak hoe groot of klein nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button