SportSport

Daniels sien uit om NWU in Varsitybeker te lei

“My inspirasie hoekom ek doen wat ek doen is verseker my moeder Claudette Daniels en Liewe Jesus wat my steeds seën met krag en genade deur alle struikelblokke op die pad na my drome.”

2021 het op ‘n fantastiese wyse vir die NWU se bekende Varsitybekersenter, Lincoln Daniels, begin toe hy as die nuwe kaptein vir die NWU se Varsitybekerveldtog aangekondig is. Daniels is die tweede gekleurde speler wat die NWU se Varsitybekerspan amptelik sal lei en dit is iets waarna hy vreeslik uitsien.

“Om kaptein te wees van die NWU is onbeskryflik. Ek is besonder trots om met die voorreg vertrou te word. Dit is regtig spesiaal en ek wil leiding neem deur ‘n voorbeeld te wees, goeie standaarde te stel en altyd my uiterste beste te gee in alles wat ek aanpak, Ek wil graag ‘n inspirerende visie vir die span skep,” vertel Daniels. Hy het al as skolespeler vas besluit dat hy graag professioneel rugby wil speel. Sy doelgerigtheid en positiewe houding het vrugte afgewerp met ‘n plek in die o.18 Cravenweek Blou Bulle span in 2016.

Lincoln Daniels is as die kaptein van die NWU se 2021 Varsitybekerspan aangekondig. Foto: Verskaf

“My rugbyloopbaan het in 2011 begin. Ek het besluit ek wil ‘n professionele rugbyspeler word en daarna was niks vir my belangriker as om my drome na te volg nie. Ek was in Hoërskool Swartland en is daarna die geleentheid gebied om na Hoërskool Garsfontein toe te gaan. Dit was ‘n ongelooflike voorreg en ek is ‘n baie trotse oudleerling.”

Nou, vyf jaar later, kan hierdie onderwysstudent sy universiteit as vierde jaar heel moontlik na hulle tweede titel lei. “Ek is baie opgewonde en dankbaar om weer na ‘n jaar te doen waarvoor ek lief is. Ons doelwit is natuurlik om die Varsitybeker te wen, maar omdat ons ‘n prosesgedrewe span is, elke wedstryd te geniet en ons heel beste te doen,” vertel Daniels optimisties. “Die gees in die span is positief en daar heers ‘n opgewonde energie tussen die ouens. Ons maak seker alles wat ons doen is effektief in ons voorbereiding vir Varsity Cup,” noem Daniels, wat in 2019 sy eerste Varsitybekerwedstryd gespeel het.

Lincoln Daniels is een van die opwindendste agterspelers in vanjaar se NWU Varsitybekerspan. Foto: ASEM Engage

“My beste oomblik in die Varsitybeker was toe ek my eerste drie gedruk het teen CUT en toe ek my buiging teen Kovsies gemaak het,” verduidelik Daniels, wat ook in 2019 sy senior Luiperds buiging gemaak het. Die nuwe jaar bied nuwe geleenthede vir Daniels was as speler na die voormalige Springbok, Juan de Jongh, opkyk. Natuurlik weet Daniels dat daar talle rolspelers is wat hom gelei het tot waar hy vandag is. “My inspirasie hoekom ek doen wat ek doen is verseker my moeder Claudette Daniels en Liewe Jesus wat my steeds seën met krag en genade deur alle struikelblokke op die pad na my drome.”  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button