SportSport

Atlete op hulle stukke tydens groot ACNW byeenkoms

Gimmies se verspring en hoogspring koningin, Karmen Fouché, het ook twee eerste plekke in die dogters o.20 kategorie behaal.

Die top atlete van die distrik was verlede naweek (12-13 Maart) in aksie by Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW) se jeug, junior en senior atletiekbyeenkoms by die NWU McArthur-stadion.

Daar was vuurwerke op die baan en veld met atlete wat ‘n paar top tye en afstande behaal het. Plaaslike het Potchefstroom Gimnasium se atlete puik presteer by hierdie kampioenskappe en het 51 medaljes  tussen 75 atlete ingepalm. Gimmies spog met 21 goue-, 18 silwer- en 12 bronsmedaljes.

Sandri van Rooyen (dogters o.16 100m) was een van hierdie goue medalje wenners met ‘n skitterende tyd van 12.65 sekondes.

Gimmies se verspring en hoogspring koningin, Karmen Fouché, het ook twee eerste plekke in die dogters o.20 kategorie behaal. In die verspring het sy met sprong van 6.05 meter gewen en die in die hoogspring oor die 1.80 meter lat geseil. Armand Willemse (Gimmies) was ook op sy stukke in die seuns o.18 spiesgooi met ‘n 76.46 meter gooi.

Die voormalige Gimmie, Miandi van Staden, wie nou vir die NWU verteenwoordig het ook ‘n eerste plek in die vroue o.20 100m in ‘n tyd van 12.45 sekondes bekom.

Een van die groot verrassings was toe KHS se spoedvraat, Henru Olivier, vir die NWU se top atleet, Chederick van Wyk in die mans 25 100m item geklop het. Olivier het oor die wenstreep in 10.46 sekondes gesnel. Van Wyk was kort op sy hakke in 10.51 sekondes.

Kry die volledige uitslae hier:

Abrie Kruger van die NWU

Sheré Janse van Rensburg (NWU) was ook op top spoed. Die Vaaldriekhoek-blits het die 100m en 200m haar vaart bewys in die vroue 25-item met ‘n eerste plek in die 200m en ‘n tweede plek net agter Nicola van der Merwe in die 100m. Janse van Rensburg het die 200m in 24.16 sekondes voltooi. Lente Pieterse het vir haar tweede plek in die vroue 25 200m-item vergoed toe sy ‘n eerste plek in die 400m in ‘n tyd van 54.29 sekondes behaal.

Die mans 25 1500m finaal was ‘n tweestryd tussen twee van Potch Track Club (PTC) se top atlete met Jerry Motsau en Luan Munnik wat vir die top plek gehardloop het. Munnik, wat die NWU verteenwoordig het, het sy meer ervare teenstander en hardloopmaat in ‘n tyd van 03:46.74 geklop met Motsau wat in ‘n tyd van 03:47.04 eindig.

Die mans 25 5000m finaal het ook ‘n paar sterre soos Thabang Mosiako, Joel Mmone en Puseletso Mofokeng onder andere gehad. Mosiako het die wen in 14:24.15 behaal om sy goeie vorm die seisoen voort te sit. Op die veld was dit goed om te sien dat John van Wyk (Volkies) ook weer op die gewigstootbaan met ‘n gooi van 13.91 meter in die seuns o.18 gewigstoot sy staal gewys het.

Gimmies se Richter van der Merwe het in die seuns o.18 diskus eerste plek gekry toe hy bogenoemde Van Wyk met ‘n afstand van 45.24 meter verslaan. Van Wyk het ‘n tweede plek 43.39 meter behaal.

Die NWU se Marga Cumming het ook in die vroue 25 hamergooi goeie vorm gewys met ‘n gooi van 62.49 meter. So ook Phetisang Makhethe wat in die vroue 20 kategorie die hamer 56.31 meter ver laat trek het.

Related Articles

Back to top button