SportSport

Pret en plesier vir laerskole se jong bergfietsryers

Van die hoogtepunte van hierdie suksesvolle dag was om te sien hoe die kinders die verskillende tegniese hindernisse oorwin en ook geniet het.

Daar was sommer groot pret toe 94 jong en ywerige laerskoolkinders Saterdag, 27 Februarie ‘n een-dag bergfiets vaardigheidskursus by Koedoeslaagte in Parys bygewoon het.

Hoër Volkskool Potchefstroom se fietsryers onder leiding van Wynand Fourie, verteenwoordiger van NW by SA Schools Cycling, het die kursus aangebied waar laerskool fietsryers basiese bergfietsvaardighede en ‘n paar nuwe tegnieke aangeleer het.

Foto’s: Verskaf

Zanri Grobbelaar, Zandré Stemmet, Ansuné Fourie, Christiaan Brits, Montalo Koen en Christelle Engelbrecht was die Volkies wat hand en fiets bygesit het om die jong fietsryers mooi touwys te maak. MJ Potgieter van Laerskool Mooirivier het ook die jonges gehelp.

Van die hoogtepunte van hierdie suksesvolle dag was om te sien hoe die kinders die verskillende tegniese hindernisse oorwin en ook geniet het. Soos wat die dag verloop het, was daar duidelike vordering soos wat die jong fietsryers hulle fietse en die genot van bergfietsry omarm het.

Verskeie plaaslike skole se leerlinge soos Laerskool Baillie Park, Laerskool ML Fick en Laerskool Mooirivier en voorskoolse kinders het hulle gate uit geniet. Die dag het om 08:00 begin en tot 16:00 aangehou met die jong fietsryers wat ‘n verskeidenheid tegnieke en basiese veiligheid geleer het.

Een van die baie pluspunte van fietsry is dat daar plek vir enige kind is om deel te neem, ongeag die vlak waarop hulle fietsry.

Weens die sukses van hierdie NW Laerskole byeenkoms word daar in die toekoms nog soortgelyke dae beplan om die liefde vir bergfietsry onder laerskoolkinders in Potchefstroom en die groter Noordwes te laat groei.

Vir meer inligting kan Wynand Fourie by wjfourie@safricom.co.za gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button