Die NWU paalspringatleet, Valco van Wyk, se hoofdoelwit is om die beste paalspringatleet in die wêreld te wees en rekords te breek. Dit klink dalk asof Valco hoog mik, maar hierdie atleet het reeds ‘n persoonlike beste sprong van 5.61 meter agter die rug – die derde hoogste in Afrika.
Net legendes soos Riaan Botha en Okkert Brits het die lat al hoër oorgesteek. Merkwaardig vir ‘n 20-jarige wat ook al weet hoe dit voel wanneer jy nie oor die lat kom nie en letterlik met ‘n gebreekte paal in jou hand sit. Om werklik hoogtes te bereik, moet jy weet hoe die grond voel.
Geloof speel ‘n groot rol in Valco se lewe en volgens hom kan hy nie die hoogtes bereik sonder ‘n groot ondersteuningsisteem nie. “Ek is dankbaar vir almal se insette op en van die baan af. Op die ou einde is dit ek en die Here en die lat. Ek het die Here in paalspring ontmoet toe ek 18 was.
Die boodskap wat ek gekry het was om nooit met paalspring op te hou nie,” vertel Valco, wat die motivering, DNS en talent het om bo uit te kom.
Die 20-jarige se prestasies sluit ‘n silwermedalje by die Afrika kampioenskappe in 2018, ‘n 6de plek by die Continental Cup in die Tsjeggiese Republiek, sowel as SA senior titels in 2018 en 2019 in.
Die volgende mikpunt vir die voormalige Paarl Gimnasium-leerder is om die 6m merk te breek en dan die huidige SA en Afrika-rekord van Okkert Brits (6.03m) ook te breek. “My langtermyndoelwit is om die Afrika-rekord te breek en dan ook om die wêreldrekord te breek wat Armand Duplantis (6.18m) tans hou. Dit gaan baie werk vat, maar ek weet ek kan dit doen. Ek het ‘n wonderlike ondersteuningsisteem,” noem Valco, wat tans in Villagers Manskoshuis is.
Valco wou aan die begin van 2020 oorsee gaan deelneem, maar toe die Covid-19 pandemie kom, toe word sy aanvanklike planne in die wiele gery. Daar was wel ‘n ligpunt vir Valco toe die NWU atletiekbestuurder, Terseus Liebenberg, hom genooi het om aan die einde van 2020 aan byeenkomste in Potch deel te neem en die fasiliteite te gebruik.
Valco het toe besluit om na Potchefstroom te verhuis en by die NWU te studeer waar hy onder die bekwame afrigting van prof. Dorita du Toit oefen. Hier in Potchefstroom het hy ook die geleentheid gekry om meer gereeld deel te neem en te verbeter met sy oë wat nou Europa toe kyk.
“Ek het aan ‘n paar byeenkomste deelgeneem en nadat ek die fasiliteite gesien het, het ek geweet dat die NWU en Potch die plek is waar ek my atletiek wil verder neem,” vertel hy met ‘n glimlag.
“Die plan is om komende maand in Europa te gaan deelneem en dan mik ek ook om ‘n Olimpiese Spele kwalifiserende hoogte te behaal. Ek sal ook graag volgende jaar aan die Wêreldkampioenskappe wil deelneem,” noem hy.

Die jong man kom uit ‘n sportiewe familie en is in 2014 vir die eerste keer aan paalspring blootgestel – ‘n verhouding wat nou elke dag sterker en sterker word. “Ek het aanvanklik spiesgooi en hekkies gedoen en toe het iemand my uitgedaag om aan paalspring deel te neem. Daardie tyd was Niel Giliomee die groot ou met paalspring. Die klank wat ‘n paal maak is iets besonders en die sport het my vinnig aangetrek. Ek het in die begin gesukkel maar onder die afrigting van Louis Nienaber aangehou verbeter,” vertel hy.
Voordat Valco sy eerste persoonlike beste hoogte gebreek het, het hy eers die negatiewe ervaring van ‘n stukkende paal beleef toe hy tydens ‘n sprong sy duur paalspringpaal gebreek het.
“’n Paal kos ongelooflik baie geld en boonop trek dit ook aan jou selfvertroue wanneer dit breek. Dit maak wel van jou ‘n sterker atleet en is ‘n boublok,” verduidelik hy.

“95 persent van jou sprong is in jou aanloop. Ek is ‘n emosionele atleet en het die aansporing van die skare nodig. Dit is wanneer ek op my beste is, en as dit nie daar is nie moet ek myself net meer druk. Op die ou einde is die belangrikste om oor die lat te kom. Jy kry nie punte vir tegniek nie, maar met ‘n goeie aanloop is dit soveel makliker,” brei hy uit.
In sy vrye tyd hou Valco daarvan om videospeletjies te speel en ook tyd buite te spandeer. Hierdie adrenalienvraat het ook al gaan reksprong by Bloukrans en het ‘n groot liefde vir spoed. Vir Valco is paalspring ‘n direkte parallel van die lewe – soms is jy oor die lat en soms teen die mat, maar op die ou einde is die gevoel onbeskryflik om uiteindelik nuwe hoogtes te bereik.
“Ek wil paalspring populêr maak en dit laat groei in Suid-Afrika. Een van my groot drome is om my eie atletiekskool te stig.
Ek wil ook ’n binnenshuise atletiekbaan begin en die eerste Diamond-liga byeenkoms in SA aanbied. Dit is my langtermyndroom.” 



