
Die spreekwoordelike kwarteindstryd tussen die NWU en CUT-Ixias was ‘n kners op die tande affêre vir altwee spanne met die NWU wat met ‘n spannende 35-32 oorwinning vandag in Pretoria hulle plek in die halfeindrondte van die 2021 Varsitybeker bespreek.
Dit was die soveelste wedstryd wat die NWU ondersteuners laat naels byt het, en gelukkig vir die Potchefstromers kon hulle vasbyt teen ‘n kanniedood CUT span.
CUT het 5 drieë teenoor die NWU se 3 gedruk, maar die NWU losskakel, Nivan Petersen se skopvoet was die verskil tussen die twee spanne met sy drie doelskoppe en vier strafskoppe.
Die NWU was in die eerste 20 minute op die agtervoet met die Ixias wat ‘n 15-3 voorsprong geneem het. Brendon Fortuin en Janus Venter druk vir die Bloemfonteiners en die NWU moes toe kop hou en so gou as moontlik terugveg.
Twee drieë van die slot, Jeandré Leonard het die NWU weer terugebring, terwyl die losskakel, Nivan Petersen ook sy deel met sy skopvoet met drie strafskoppe en twee doelskoppe gedoen het om die wedstryd in die NWU se guns teen halftyd met 22-15 voorspong te neem.
Petersen het met ‘n strafskop net na halftyd vir NWU ‘n 10 punt voorsprong gegee, maar die Ixias het nie gaan lê nie en hulle derde drie van die stryd gaan druk met binnesenter, Heino Bezuidenhout wat die telling 20-25 maak. Die NWU het weer teruggevuur toe flank, Ruben Dreyer, gaan druk en Petersen verdoel om sy span ‘n 12 punt voorsprong te gee.
‘n Vierde strafskop van Petersen het die telling in die 64ste minuut na 35-20 geneem en skielik was die NWU in vyfde rat sterk op pad na ‘n halfeindstrydplek. Die NWU was dalk te gerus want in ‘n kwessie van 10 minute het CUT twee keer gaan druk om die telling na 32-35 te neem. V
enter druk sy tweede drie en Xander Botha sy eerste een om sake baie interessant te hou. Die senuwees was groot in die laaste 5 minute, maar op die ou einde het die NWU aangeklou vir die wen.
NWU: 35 (22)
Driee: Jeandré Leonard (2), Ruben Dreyer
Doelskoppe: Nivan Petersen (3) Strafskoppe: Petersen (4)
CUT-Ixias: 32 (15) Driee: Janus Venter (2), Brendon Fortuin, Heino Bezuidenhout, Xander Botha
Doelskoppe: Charles Williams (2)
Strafskoppe: Williams






