Met sy lang swart hare, netjiese snor en energieke spel kan ‘n mens nie Potchefstroom Dorp se slot, Standley Jacobs, mis nie. In die lynstane troon hy uit met sy lank en lenige figuur, maar soos enige ware voorryman, geniet hy die fisiese aspekte van die vaste vyf – kortom speel Standley raakvat rugby.

Standley is een van die nuwelinge by Potchefstroom Dorp Rugbyklub wat vanjaar by die klub aangesluit het. Hy het wel nie die tradisionele rugbyroete gevolg soos baie laaities na skool nie. Standley het in 2013 aan Hoër Volkskool Potchefstroom gematrikuleer en het rugby eers op die agtersitplek gelos. Hy het sover ‘n baie interessante vier jaar reis in Amerika by die karnavalindustrie aangedurf.
“Ek het na matriek twee jaar by CTU hier in Potch ‘n draughting-kursus voltooi en my kwalifikasie gekry. Ek werk reeds vir die afgelope vier jaar in Amerika vir Kissel Entertainment (‘n reisende karnaval) as die onderhouds-toesighouer. Ek maak seker dat al die ritte reg werk en onderhou word. Ek toer elke jaar deur vyf state van Amerika, so jy kan my seker maar ‘n gypsy noem,” vertel hy grappend.
Dit was amper so dat Standley wat sy rugbytokse vir die laaste keer in 2013 aangetrek het, nie vanjaar in Dorp se wit en maroen-trui gespeel het nie.

“Ek het sowat sewe weke gelede by Potch Dorp begin nadat Ruan Vermaak (Potch Dorp hulpbestuurder) nie nee wou vat vir ‘n antwoord nie en my oortuig het om vir die klub te kom speel terwyl ek wag om terug te gaan Amerika toe. Ek geniet die gees, die mense en die familiegevoel wat mens by Potch Dorp kry. Jy voel deel van iets goeds. Ek is ‘n ‘Potcher’ uit en uit en is trots om my dorp in rugby te verteenwoordig omdat dit iets is waarvoor ek lief is,” brei die gebore en getoë Potchefstromer uit.
Sport en rugby was al van jongs af deel van Standley se milieu, met sy oupa, Louis Nel, wat vir Transvaal rugby gespeel het. Standley het self ook ‘n rugbybal in sy hande gehad vanaf Bulletjie rugby tot matriek en sy terugkeer op die rugbyveld is ‘n welkome gesig vir almal by die klub.
“My gunsteling deel van rugby is die lynstane en om deel te wees van die vaste vyf, of soos baie mense sê, die enjin van die skrum,” noem hy.
Af van die rugbyveld is Standley een van die vriendelikste mense wat daarvan hou om mense te laat lag en ‘n glimlag te sien. Hy is ook altyd lus vir braaivleis en geniet ook ‘n bier.


“Ek sal altyd mense probeer bystaan waar ek kan en probeer altyd die positiewe raaksien. Ek geniet die gym, swem en om saam met vriende gesellig te verkeer. Ek is ook mal oor dans en musiek, veral classic rock and roll,” noem die man wat juis soos ‘n rocker kan voorkom met sy snor.
“Om ‘n mooi snor te groei moet ‘n mens net bier drink en rock and roll luister! Ek hou my snor mooi in stand met ‘n snorskêr en ‘n bietjie baardolie laat hom mooi groei en vars lyk,” verduidelik hy die geheim agter sy netjiese snor.
Omdat Potch Dorp in ‘n kort tydperk vir Standley soos familie geword het, bedank hy graag ‘n paar mense wat direk verantwoordelik is vir ‘n herlewing van die sport waarvoor hy lief is. “Ek wil graag vir Joe Smith, Lesley Jackson, Mitchell Coetzee, Bolla van der Merwe, Bruwer Lerm, Oom Buks Lerm, Lezelle Lerm en Ruan Vermaak by Potch Dorp dankie sê vir alles.”




