SportSport

Krieketakademie gee Volkies vlerke

“Ek wil seker maak dat die krieketspelers weet waar hulle moet verbeter sodat hulle oor ‘n tydperk kan groei. Ons wil seker maak dat hulle uitstekende krieketspelers en mense van die samelewing is.”

Vyftien top Volkie krieketspelers het vanjaar die gulde geleentheid om hulle spel na die hoogste vlak te vat. Hoër Volkskool Potchefstroom het aan die begin van vanjaar saam met Johan Vorster se krieketakademie, ProfCric HP Cricket Academy, hande gevat en tot dusver is die resultate noemenswaardig.

Die hoofbestuurder by Volkies Krieket, Andries Huisamen, het Johan Vorster aan die einde van 2020 genader aangesien daar ‘n behoefte vir ekstra kwaliteit afrigting by die bestaande Volkies Krieketakademie was.

“Ons wou by Volkies ‘n atmosfeer skep vir hoë prestasie afrigting. Ek het die Volkies Krieketakademie begin en nou gee ons die huidige akademie ‘n ekstra hupstoot,” verduidelik Huisamen.

Waldo Kemp is een van die talentvolle spelers by die ProfCric HP Krieketakademie. Foto’s: Verskaf

Vorster het sewe jaar internasionaal in Australië afgerig en is ‘n Vlak 3 Krieket Suid-Afrika afrigter met 21 jaar se ervaring. Spelers het nou die geleentheid om saam met die ervare CSA Vlak 3 afrigter, Johan Vorster, op ‘n wetenskaplike wyse hulle spel daagliks te verbeter en volronde krieketspelers te word wat na skool ‘n loopbaan van krieket kan maak.

“ProfCric gee voorkeur vir Volkie krieketspelers met 15 spelers/kliënte wat kontrakte gekry het vir hierdie jaar. Die eerste opsie gaan aan Volkie krieketspelers, aangesien ons ‘n ooreenkoms met Volkies het, maar daar kan meer kontrakte later beskikbaar gestel word vir spelers van alle skole by ProfCric,” vertel Vorster.

“Die akademie het vanjaar uitgegaan om 15 spelers te kry met ‘n streng keuringsproses. Ons wil vir die seuns ‘n kans gee om ‘n loopbaan van krieket te maak. Regoor die wêreld is daar krieketligas soos die IPL, CPL and Big Bash waar spelers nou geleenthede kan kry,” vertel Vorster.

By ProfCric wil daar speelgeleenthede geskep word waar jong spelers ook reg voorberei word in verskeie fasette van krieket, beide op en van die veld af.

“Ons kyk na die spelers se tegnieke op ‘n wetenskaplike wyse na goed soos onder meer kolfswaai, die spoed wat die kolf die bal tref en boultegnieke deur middel van tegnologie,” noem hy.

“Hierdie program word vyf keer per week aangebied en dek alle aspekte van krieket, wat wissel van individuele vaardigheidsontwikkeling, geestelike ontwikkeling, fisiese kondisionering en veldwerk. Die program fokus ook op bewustheid en gedrag op sosiale media, openbare toesprake sowel as gesondheids- en voedingsopleiding.” Volgens Vorster bied ProfCric ook ‘n addisionele program aan wat drie verskillende pakkette bied wat kontrak A, kontrak B en kontrak C genoem word.

“Hierdie inisiatief is om te verseker dat ons aandag gee aan alle verskillende vermoëns en om te verseker dat ons ‘n produk bied wat almal se sake en behoeftes pas,” noem Vorster. Spelers kry ook die geleentheid om wedstryde oor naweke as ‘n akademie te speel om seker te maak dat hulle hul groei op wedstrydvlak eerstehands aanskou. Sodoende het ProfCric hulle eerste wedstryd teen die Neil Levenson Krieketakademie op Witrand op Sondag, 16 Mei gespeel.

“ProfCric het ook ‘n baie sterk verhouding met Noordwes-krieket, want ons glo dat ons deel is van die proses om te verseker dat ons spelers van topgehalte lewer as hulle Noordwes-krieket gaan verteenwoordig. Noordwes-krieket sal nie net baat vind by ons unieke en gespesialiseerde dienste nie, maar die spelers self sal hulle in ‘n gunstige posisie vind waar hulle geleenthede elders, in die buiteland of plaaslik, kan gaan aanpak,” noem Vorster.

Hierdie ervare afrigter noem ook dat hy nie doekies wil omdraai nie en ‘n eerlike prentjie van die spelers se vordering aan ouers wil kommunikeer.

“Ek wil seker maak dat die krieketspelers weet waar hulle moet verbeter sodat hulle oor ‘n tydperk kan groei. Ons wil seker maak dat hulle uitstekende krieketspelers en mense van die samelewing is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button