SportSport

Luiperds klop Griffons in Potch vir die eerste keer in ses jaar

Die Luiperds het met 'n klipharde aanslag die besoekende en onoorwonne Griffons span vanmiddag (Saterdag, 17 Julie) met 36-26 op Olënpark verslaan. 

Die Luiperds het met ‘n klipharde aanslag die besoekende en onoorwonne Griffons span vanmiddag (Saterdag, 17 Julie) met 36-26 op Olënpark verslaan.

Die oorwinning is die Luiperds se eerste een oor die Griffons tuis sedert 2015 en breek ‘n droogte van ses jaar teen die Perstruie.

Foto’s: Mario van de Wall

Die fondasie van die Luiperds se oorwinning is in die eerste 25 minute gelê toe die Luiperds ‘n 24-0 voorsprong geneem het danksy ‘n van die oopkantflank,  André Fouché en een van die vaskopstut, Sampie Swiegers.

Twee van hierdie drieë was vanaf wel beplande en uitgevoerde rolmaalbewegings, met een wat in ‘n strafdrie ontaard het.

Net voor halftyd het die Griffons in die 35ste minuut uiteindelik deurgebreek met die binnesenter en kaptein, Duan Pretorius wat tussen die pale oorduik vir sy span se eerste drie. Teen halftyd was die telling 24-7 in die Luiperds se guns danksy sterk momentum wat die voorspelerpak gelewer het.

Krediet moet ook aan die agterspelers veral die binnesenter, Tjaart Benade, gegee word wat met ‘n puik pypkan en brute krag Fouché se eerste drie bewerkstellig het. Nog ‘n welkome terugkeer vir die Luiperds was Edmund Rheeder wat alreeds in die eerste helfte vir HP Swart na ‘n besering moes vervang. Rheeder wat verlede jaar rugby vir eers vaarwel geroep het, het in sy terugkeer skaars ‘n voet verkeerd gesit. 

Fouché se uitstekende wedstryd het in die tweede helfte voortgeduur toe hy sy tweede drie druk. Die Griffons het wel nie terugestaan nie en met ‘n drie van plaasvervanger vaskopstut, Christo Bezuidenhout, en haker, Dandré Delport se vyf punte is die telling na 31-19 geneem.

Die linkervleuel, Eugene Hare het in die laaste 10 minute die wind uit die Griffons se seile gehaal toe hy ‘n los bal wat aangeslaan is in sy eie kwartgebied opraap en doellyn toe snel sonder dat ‘n verdediger ‘n vinger op hom kom plaas.

Met ‘n 36-19 voorsprong was die Luiperds op koers na ‘n wensege en nie eers ‘n strafdrie kon die Luiperds van ‘n sege keer nie. Die Luiperds sal wel moet werk aan hulle vorm in die tweede helfte en het die Griffons te veel kanse gegee om terug te kom.

Die Griffons het wel genoeg gedoen om een bonuspunt te verkry en is steeds bo aan die punteleer op 20 punte. Die Luiperds is tans tweede op 16 punte, maar het een wedstryd minder gespeel.

Punte: Luiperds: 36 (24) Drieë: André Fouché (2), Sampie Swiegers, Eugene Hare, Strafdrie

Doelskoppe: Danrich Visagie (3)

Strafskop: Visagie

Griffons: 26 (7)

Drieë: Duan Pretorius, Christo Bezuidenhout, Dandré Delport, Strafdrie

Doelskoppe: Aphiwe Stemele (2)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button