SportSport

Gesoute NWU sportsielkundige agter SA se Olimpiese aanslag

"Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg. My rol is altyd agter die skerms om ondersteuning aan spelers en bestuur te bied, so ek gaan om te help om ‘n verskil te maak."

Daar is nie ‘n groter atletiekverhoog as die Olimpiese Spele nie en daar is min sportgeleenthede met só ‘n kleurryke geskiedenis. Vir elke glorieryke Spele gevul met dramatiese, ryk herinneringe is daar ook Spele wat met treurmare gepaard gegaan het.

Londen 2012 en Atlanta 1996 val in eersgenoemde kategorie, die tragedie van Munich 1972 in laasgenoemde. Berlyn 1936 is in die anale van ons geskiedenis vir redes meer as Jesse Owens se prestasies vasgevang en Korea 1988 sal meer vir die 100m-opkikkerskandaal as vir die Spele self onthou word. Maar, hoe berei atlete hulself vir Tokio 2021 voor?

Die direkteur van die Centre for Health and Human Performance (CHHP), prof. Pieter Kruger, is die enigste sportsielkundige wat saam met SASCOC se Olimpiese Span tydens die Olimpiese Spele in Japan gaan werk

‘n Dodelike virus, uitstellings, ontwrigtings, inperkings en die vooruitsig van leë stadiums draai deur elke atleet se kop. Wat die Suid-Afrikaanse span betref is die Noordwes-Universiteit se wêreldbekende sportsielkundige, dr. Pieter Kruger, saam in Tokio om sy kundigheid as deel van die bestuurspan te deel:

As sportsielkundige, hoe gaan jy die atlete help om die unieke uitdagings van Tokio 2021 te hanteer?

Dit gaan ‘n groot uitdaging wees, maar ons het die atlete die afgelope 12 maande fyn dopgehou en is deeglik bewus van hul eie en unieke behoeftes. Covid-19 en die inperkings het ‘n reuse impak op die atlete se algemene gedragspatrone gehad. Dieselfde gaan in Tokio geld. In die Olimpiese Village moet die atlete heeltyd maskers dra, behalwe wanneer hulle oefen, word daagliks getoets vir Covid en trek plastiekhandskoene aan wanneer hulle die eetsaal betree. Dit is nie normaal nie en gaan ‘n kopskuif verg. Ons het reeds weke gelede met werkswinkels vir die atlete begin, want in hierdie tye is dit alles behalwe besigheid soos normaal. Ons het ‘n raamwerk aan atlete gegee en ons het ‘n plan. Ons het vroeg reeds besef dinge gaan nie wees soos ons gehoop het nie en dat ons proaktief moet wees. Ek was al by ‘n paar lang toere betrokke, soos saam met die Springbokrugbyspan in 2015. Hoewel Tokio ander uitdagings gaan bied, gaan atlete en bestuur se ingesteldheid deurslaggewend wees.

Dink jy atlete gaan sukkel om hul fokus te hou?

Vir sommige atlete gaan dit makliker wees as ander. Ons moet ook die kultuurskok in gedagte hou – Japan doen dinge op ‘n ander manier as wat ons aan gewoond is. Ek dink wel die grootheid van die geleentheid gaan as ekstra motivering vir die atlete dien. As ek terug dink aan die 2012 Olimpiese Spele in Londen onthou ek hoe dit was, asof die atlete ‘n ekstra dosis energie gekry het. Hulle weet hulle is nou op die wêreldverhoog en dit bring die beste uit die oorgrote meerderheid uit.

Prof. Pieter Kruger, sportsielkundige verbonde aan die NWU, is saam met die SA Olimpiese span in Tokio, Japan tydens die Olimpiese Spele.

Behoort die aanpassings makliker vir ouer atlete as hul jonger eweknieë te wees?

Navorsing het bewys dat daar ‘n korrelasie tussen ouderdom en probleemoplossing is. Dit blyk dus dat ons wel leer uit vorige ervaringe. Hoe meer mens van die huis af weg deelneem, hoe meer vaardighede leer mens dikwels aan oor hoe om unieke situasies te hanteer. Mens kan natuurlik nie almal oor dieselfde kam skeer nie, maar dit bly ‘n bate om lesse uit die verlede te kan ophaal.

Wat was vir jou van die grootste lesse wat jy as sportsielkundige die laaste jaar geleer het?

Ons kon natuurlik nie in ons wildste drome voorsien dat iets soos die Covid-19 epidemie sou gebeur nie en dit was fassinerend om te sien hoe mense dit hanteer. Mense se ongelooflike aanpasbaarheid het vir my uitgestaan, dieselfde vir atlete. Hulle dryf om te presteer het dit vir hulle maklik gemaak om aan te pas, hulle het nie ‘n keuse nie. Dit is nie net hul inkomste nie, maar die dryf en sport is deel van hul wese en hulle sal agteroor buig om te presteer.

Sien jy uit na die ervaring?

Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg. My rol is altyd agter die skerms om ondersteuning aan spelers en bestuur te bied, so ek gaan om te help om ‘n verskil te maak. Ek weet daar gaan ‘n paar onvoorsiene probleme wees, maar ons as die Suid-Afrikaanse span is in Tokio om die geleentheid aan te gryp en die beste daarvan te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button