Een van Potchefstroom se bekendste langafstandatlete, Elroy Gelant (35), het tydens vanjaar se Tokio Olimpiese Spele in een van die moeilikste marathonwedlope van sy lewe geswoeg en gesweet.
Met sy mede Suid-Afrikaanse spanmaats en talle ander atlete wat nie die eindstreep saam met hom kon haal nie, was Gelant doelgerig omdat hy geweet het hoe hard hy gewerk het om die Olimpiese Spele te haal.
“Ek het net aanhoudend vir myself gesê dat ek nie kan opgee by die grootste byeenkoms in my loopbaan nie. ‘n Mens kry nie groter as die Olimpiese Spele nie en ek moes klaarmaak,” vertel Gelant.
Hy is weer terug in Potch nadat hy ‘n 34ste plek in die marathon behaal het. Gelant, wat tans by die NWU werk, was die eerste en enigste Suid-Afrikaner oor die wenstreep in ‘n tyd van 2:16:43. Die Keniaan, Eliud Kipchoge het sy Olimpiese Marathon-titel in ‘n tyd van 2:08:38 verdedig.

“Dit was ‘n humbling ervaring om weer terug in Suid-Afrika te kom en te sien hoe almal (my ouers/vriende) saam bly is en te sien watter ondersteuning ek in my tuisdorp (George/Pacaltsdorp) het. Om ‘n mens se land by die Olimpiese Spele te kan verteenwoordig is ‘n massiewe eer,” meen Gelant.
Volgens Gelant was die hitte ‘n groot uitdaging gedurende die wedloop wat in Sapporo in die noorde van Japan plaasgevind het. Die wedloop is juis uit Tokio geskuif weens die versengende humiditeit, maar op die dag was temperature steeds ‘n groot dilemma.
“Ek moes positief bly, al was dit ongelooflik moeilik. Ek het net geweet dat ek nie kon opgee nie, dis dan die Olimpiese Spele!,” vertel die huidige SA 5000m rekordhouer.
Volgende op die spyskaart vir hom is die langtermyn doelwit om die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk te bereik waar hy hoop om SA weer in die marathon te verteenwoordig en dié keer met ‘n medalje terug te keer.
In 2024 sal Gelant wyser, slimmer en in bekender Europese kondisies gereed wees om sy naam in die geskiedenisboeke te skryf.



