Al was ‘n medalje nie vir die Noordwes-Universiteit (NWU) se paralimpiese atleet, Liezel Gouws, beskore nie, kan sy steeds haar kop omhoog hou na ‘n vasberade vertoning tydens die 2020 Tokio Paralimpiese Spele wat vanaf 27 Augustus – 4 September plaasvind.
Gouws het in die 200m en 400m T37 klas tydens die Spele deelgeneem. In die 400m wedloop op Dinsdag, 31 Augustus het sy ‘n vyfde plek in die finaal in ‘n tyd van 1:06.85 behaal.
Dit was ook haar beste tyd van die seisoen. In dieselfde wedloop het haar landgenoot, Sheryl James, ‘n bronsmedalje vir Suid-Afrika in ‘n tyd van 1:03.82 verower.
Jiang Fenfen van China het die wedloop in ‘n tyd van 1:01:36 gewen. In die 200m wedloop is Gouws gediskwalifiseer nadat sy nie in haar baan gebly het nie en op die lyn getrap het.




