
Gimmies dogterskrieket is aan die kook met ‘n paar top vertonings die afgelope maand. Een speler wat ongetwyfeld die oog op die veld gevang het, is Elandri Janse van Rensburg.
Hierdie talentvolle 16-jarige krieketspeler wat al verlede jaar haar debuut vir die Noordwes Dragons senior vrouespan gemaak het, is vanjaar propvol lopies en paaltjies vir haar onoorwonne Gimmie-span.
Elandri spog met ‘n hoogste telling van 122 vanjaar en hierdie openingskolwer is een wat net ‘n paar balle nodig het om haar oog in te kry voor sy losbrand.
“Krieket is al van ‘n jong ouderdom af my passie toe ek en my boetie Kobus, in die tuin krieket gespeel het. Ek was toe 5 jaar oud en van toe af is ek lief daarvoor,” noem Elandri.

Sy het in graad 4 by Laerskool Tzaneen saam met die seunskrieketspan gespeel en ook vir Hoërskool Merensky krieket gespeel voor sy verlede jaar Potchefstroom toe getrek het met die doel om haar krieket verder te vat.
“Hier in Potch is dit die Noordwes Dragons wat ‘n top span is. Ek is bevoorreg om al sewe wedstryde vir hulle op so ‘n top vlak te kon speel. My droom is om aan te hou om vir die Dragons te speel en dan die SA o.19 span vir die 2023 Wêreldbeker te haal. Dit is my mikpunt,” vertel hierdie doelgerigte speler.
Sy wil altyd net haar beste gee en kan soms negatief raak as dinge nie altyd in plek val nie, maar noem dat haar boetie haar moed inpraat en haar baie help.
“Hy glo baie in my en help my baie om te verbeter en my kop hoog te hou,” meen sy. Elandri geniet dit verskriklik om vir Gimmies krieket te speel, juis omdat daar ‘n groot gees in die span is en almal wil presteer.
“Ons werk baie goed saam in ‘n span. Almal is opgewonde om krieket te speel. Dit help ons om van ons stres ontslae te raak as ons krieket speel.”
Hierdie doelgerigte krieketspeler kyk op na Proteas soos Laura Wolvaardt, Mignon du Preez en Suné Luus en noem dat sy ook graag die senior Protea span wil verteenwoordig.
“Nou het ons as meisies ‘n baie goeie kans om ‘n lewe uit krieket te maak. My plan is om eers die opkomende Proteaspan te haal en dan my land op die hoogste vlak te verteenwoordig.”
Onthou die naam Elandri Janse van Rensburg – sy gaan nog baie lopies slaan en paaltjies vat.