‘Vreesloos’ is ’n word sinoniem met Pieter Conradie. Sy teenstanders op die atletiekbaan kan daarvan getuig. Sy toekomstige skoonpa kan daarvan getuig. Booswigte sowel as die polisie in Potchefstroom kan daarvan getuig en so ook sy verloofde. Vreesloos, dié 26-jarige. So week en ʼn ruk terug hoor jy nog sy asem lê vlak. “Kan ons ʼn ander tyd gesels?” vra hy.
ʼn Paar dae later en die storie loop so: “Ons was tussen ’n paar veldbrande vasgevang,” vertel hy oor sy stryd teen die vlamme op sy toekomstige skoonpa se plaas by Fauresmith in die Vrystaat. “Dit was ʼn nou ontkoming,” sê die amateurbrandweerman. Einste toekomstige skoonpa wie se dogter, Danelle, se guns hy met ʼn heldedaad gewen het.
Hy het by die koffiehuis Toro in Potchefstroom saam ʼn gesit en flikflooi toe hy ʼn gil hoor. Twee skelms het ʼn meisie se beursie gegryp en laat spaander. Derduiwel wat hy is, sit hy hulle agterna. Die vuiste klap en kort daarna word Danelle, wie die vorige dag verjaar het, se beursie vir haar terug besorg. Die slagoffer gaan kry toe sy nommer by die polisie en op 11 Desember vanjaar word Danelle Jacobs, Danelle Conradie.
Pieter was so paar maande terug as lid van die Suid-Afrikaanse span ingesluit is om aan die Olimpiese Spele in Tokio, Japan deel te neem, maar moes helaas tevrede wees om as nie-reisende-reserwe die Spele te ervaar.
“Die afgelope twee jaar was nogal moeilik. Ek het amper my voet afgeskryf en moes vasbyt om weer op ʼn goeie standaard te kom,” sê Pieter wat pas sy graad in Lanbouekonomie en Risikobestuur by die Noordwes-Universiteit voltooi het.

Met die Covid-19 pandemie wat ook hoogty gevier het, het sy skoonpa vir hom met ʼn stootskraper en vervoerbandrolle ʼn baan op sy plaas gebou.
“Die universiteit het ook heeltyd hul fasiliteite beskikbaar gestel en ek is ongelooflik dankbaar daarvoor.”
Met afrigter en broer Chris Conradie en die mentorskap van die NWU se Jean Verster in sy hoek is hy slaggereed om die volgende drie jaar aan te durf.
“Volgende jaar is die Wêreldkampioenskappe en die Statebondspele. Dan is daar die volgende Olimpiese Spele. Dit gaan ʼn groot dire jaar wees.”
Hoewel sy spesialisitem die 400m is, gaan Pieter poog om ewe bekwaam in die 100m en 800m ook te wees. “Dit is baie belangrik om aanpasbaar te wees.” Sy uiteindelike doel: “Ek wil in die 2024 Olimpiese Spele in Parys in die 400m-hekkies deelneem.” Sit ʼn boef met ʼn beursie voor hom en ʼn medalje is syne. 



