
Die eerste Let’s Go Potch padwedloop wat Saterdag, 6 November gehou is, was ‘n dawerende sukses. Drawwers en atlete uit alle oorde het aan hierdie gemeenskaplike wedloop deelgeneem.
Daar was oor die 500 deelnemers wat in onderskeidelik die 5-, 10- en 21 km wedlope deelgeneem het. Dit is deur Shofar Potchefstroom in samewerking met Motion Sport en ACNW aangebied.
Die wedlope het op Gimmies se krieketveld begin en geëindig, met deelnemers wat hulle roete in die lowergroen woonbuurte op die Bult en Vanderhoffpark-areas aangepak het.
‘n Mens kon sien dat die gemeenskap na meer sulke wedlope smag waar almal hulle doelwitte kon bereik en met ‘n medalje huis toe gaan, ongeag hulle ervaring of fiksheidsvlak.
Die groot uitblinkers op die dag in die 21 km wedloop was die manswenner, Ian Slinger wat in ‘n tyd van 1:05:25 klaargemaak het. Slinger was meer as 12 minute vinniger as Ditshwele Mojalefa in die tweede plek in 1:17:45.
Willem van Rooyen behaal die derde plek in ‘n tyd van 1:19:48. Die eerste vrou oor die lyn in die 21 km was Cornelia Joubert in ‘n tyd van 1:22:16, net voor Adele Broodryk wat die eindstreep in 1:26:19 bereik het.
Foto’s: Wouter Pienaar
“Ek moet sê die wedloop was goed georganiseer. Die wind was op pad terug vir my bietjie taai en die meeste van die wedloop het ek alleen gehardloop, so daar was geen manier hoe ek takties kon hardloop nie. Ek het net vasgehou,” noem Slinger.
In die 10 km wedloop was die top drie kop-aan-kop in ‘n opwindende en kompeterende stryd vir die eerste plek tussen SA Olimpiese atleet, Elroy Gelant, SA 3 000m rekordhouer, Jerry Motsau en een van SA se top middelafstandatlete, Luan Munnik. Gelant wen in 31:13.6, Motsau is tweede in 31:20.5 en Munnik derde in 31:23.4. Carmen Mouton is die eerste vrou oor die lyn in die 10 km in ‘n tyd van 43:30.1.
In die 5 km wedloop het die NWU se Keanu Domingo sy stempel afgedruk met ‘n wentyd van 15:15. Tweede was Renier de Villiers in 15:25.8 met Abrie Kruger derde in 16:00.7. “Ons is baie dankbaar vir almal se inkoop. Ons het ongelooflike goeie terugvoer gekry.
Die opkoms was oor die 500 atlete, so ons is baie dankbaar daarvoor. Ons het op die dag meer inskrywings gehad as wat ons gedink het en moes sodoende effens later begin as beplan,” vertel Christo Louw, senior pastoor by Shofar Potchefstroom.
“Ons het nie net kontantpryse gehad nie, maar ons borge kon ook vir die wenners ander pryse gee. Die top atlete in die 10 km, Elroy Gelant, Jerry Motsau en Luan Munnik het ook na die tyd vertel hoe goed die wedloop georganiseer was.
“Al die borge was ook baie positief by die waterpunte met die marshalls wat ook uiters vriendelik was. Van Shofar se kant af was dit ‘n enorme sukses. Ons wil reeds binne die volgende paar weke volgende jaar se datum vasmaak en seker maak dat ons dit jaarliks as ‘n amptelike Potchefstroomse wedloop kan reël,” sê Louw.


























