SportSport

Interference Race beloof om ‘n aksiebelaaide affêre te wees

Hierdie Sondag, 21 November gaan die modder behoorlik spat by die Interference Race hindernis wedloop by Hartspad Adventure Trails.

Hierdie Sondag, 21 November gaan die modder behoorlik spat by die Interference Race hindernis wedloop by Hartspad Adventure Trails. Hierdie hindernis wedloop, ook bekend as OCR (Obstacle Course Racing) beloof om groot pret te wees.

Deelnemers kan hulle staal in die 5km en 10km wedlope wys. In die elite kategorie sal die atlete vir prysgeld en ‘n wisseltrofee deelneem.

Die wedloop sal in groepe van 50 deelnemers wegspring met die eerste groep wat alreeds om 07:30 die oggend begin.

“Obstacle Course Racing bestaan uit ‘n veldwedloop (’trail running’) en hindernisse wat oor die roete versprei is. Atlete moet ‘n sekere afstand hardloop en gedurende die wedloop hiérdie hindernisse baasraak om die wedloop suksesvol te voltooi. Tipiese hindernisse sluit in cargo nette of doringdraad waaronder deelnemers moet kruip, mure waaroor deelnemers moet klim, monkeybars, tou klim, gewigte wat oor n sekere afstand gedra moet word (van ‘n baksteen tot ‘n waterkan), balansbalke en natuurlik modderputte. Hoe meer modder, hoe beter.

“Ons wil nie die aap uit die mou laat nie, maar deelnemers kan al die bogenoemde verwag by ons wedloop,” verduidelik die Interference Run se organiseerder, Armin Botha.

Botha is bekend as een die vooruitstaande OCR-atlete in die land wat nou die geleentheid het om sy liefde vir hierdie sport met ander te deel. Deelnemers kan aanlyn inskryf by: https://www.entryninja.com/events/77230 of op die dag by Hartspad vanaf 06:30. Facebook: https://www.facebook.com/runinterference/ Webwerf: https://runinterference.co.za/

Vir meer inligting kontak Armin Botha by 0798866993 of Kevin Boshoff by 0604862872.

Hier is ‘n paar algemene vrae en antwoorde oor OCR:

Hoe oefen jy vir OCR?

“Aangesien OCR ‘n kombinasie van uithouvermoë en krag is, sal dit wys wees om hierdie twee oefeninge afsonderlik te bemeester en ook soms in kombinasie te oefen. Dink aan liggaamsgewig oefeninge (opdrukke, optrekke en been oefeninge) en hardloop/draf. Alhoewel dit uitdagend klink, kan lesers gerus weet dat die Interference Run vir almal doenbaar sal wees.”

Hoekom moet almal ‘n OCR wedloop oorweeg?

“OCR is ‘n inklusiewe sport, wat mense van alle sportsoorte kan geniet. OCR daag deelnemers nie net fisies uit nie, maar verstandelik ook, party wedlope het selfs geheue toetse as hindernisse! Oor die algemeen gaan OCR oor genot en meeste deelnemers geniet die sosiale aspek daarvan en natuurlik die trotse gevoel om te spog met ‘n unieke kiekie waar hul aan ‘n monkeybar swaai. Om dit kortliks op te som, OCR is ‘n speelgrond vir kinders en volwassenes. Wanneer laas het jy as ‘n volwassene in die modder gerol of oor n balansbalk probeer loop?”

Foto’s: BeSnapped

Die toekoms vir die Interference Run?

Ons beoog om die wedloop uit te brei na ‘n volle reeks wedlope aanstaande jaar en sodanig wil ons die plaaslike gemeenskap opgewonde maak en ‘n voorsmakie gee van wat ons kan vermag. Ons het reeds deelnemers van Johannesburg en selfs van die Kaap wat kom deelneem. Ons daag dus die Potchefstromers uit om hul staal te kom wys! Ek weet ons wedloop sal kers opsteek by die groot wedlope wat reeds in die stede plaasvind. Ons het immers ‘n ongelooflike gemeenskap!

Hoe kan jy betrokke raak by die wedloop?

Buiten om aan die wedloop deel te neem, nooi ons alle Potchefstromers uit om te kom kyk hoe die atlete die modder en hindernisse trotseer. Ons het ‘n toeskouer roete uitgemerk waar al die besienswaardighede sal wees. Daar is lavenis en heerlike eetgoed by die Draaipunt restaurant en ons borge en uitstallers sal bydra tot die gesellige atmosfeer. Ons platejoggie sal ieder en elk vermaak en selfs ook Eye of the Tiger speel om die atlete aan te spoor.

Wat kry ek saam met my inskrywing?

Alle atlete sal ‘n ‘goodie bag’ ontvang wat propvol spesiale aanbiedinge en bemarkingsmateriaal is danksy ons borge. Elke atleet sal ook ‘n gedrukte foto na afloop van die wedloop ontvang en ‘n unieke plaas geinspireerde medalje huis toe neem. Foto’s van al die aksie op die baan sal dan ook na afloop van die wedloop op ons Facebook blad gelaai word vir besigtiging en aflaai. Op die einde van die dag sal die ‘bragging rights’ die grootste beloning wees.

“Ons moedig plaaslike besighede aan om betrokke te raak by die dag, ‘n span in te skryf en deel te raak van die opwinding. Die wedloop dien as ‘n geleentheid vir besighede om uit te reik na hul klientebasis op ‘n unieke vlak. Besighede kan van die hindernisse borg, die hindernis doop met ‘n naam en hul bemarking kom opslaan en dié hindernisse lewe gee. Die dag beloof om ‘n familie affêre te wees en dien ook as ‘n goue geleentheid vir ‘n spanbou aktiwiteit of jaareind ‘funksie’. Wat is ‘n wedloop dan nou sonder bietjie vriendelike mededinging?,” noem Botha.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button