Uitnemendheid, lojaliteit, integriteit, eerlikheid en ‘n kampioen-mentaliteit is maar net van die woorde wat Terseus Liebenberg, die legendariese spiesgooiafrigter en NWU Atletiekbestuurder van die afgelope 29 jaar, beskryf.
Na byna drie dekades by NWU Atletiek, voel dit onwerklik dat die 65-jarige kampioenmens sy amp as atletiekbestuurder einde vanjaar verlaat.
Liebenberg los nie net diep spore op die atletiekvelde van die NWU nie, maar ook die atletiekvelde van die wêreld as ongetwyfeld een van die beste spiesgooiafrigters van alle tye.
Dit is ook in die harte van sy kollegas by die NWU waar hy beslis ‘n merk gelaat het. ‘n Mens kon dit agterkom by die pragtige afskeidsfunksie waar hulle verlede week hulde aan die besonderse man gebring het.
Sheldon Rostron, die direkteur van NWU Sport, som Liebenberg se nalatenskap en rol by die NWU sekerlik die beste op toe hy hom as “onvervangbaar” beskryf het. Hoe vervang ‘n mens ‘n atletiekbestuurder en spiesgooiafrigter wat elke denkbare prestasie behaal het en die NWU na ongelooflike hoogtes gelei het?
Die goeie nuus vir die NWU is dat Liebenberg se honger en passie vir atletiekafrigting nog steeds vuurwarm brand en dat hy steeds sal afrig – hy sluit net sy hoofstuk as atletiekbestuurder, en wat ‘n hoofstuk was dit nie!
In 1993 nader die voormalige direkteur van sport by die PUK, dr. Koos Hugo, vir Liebenberg met ‘n pos wat hy sedertdien met lof beklee. Onder sy afrigting plaas die puik atleet, Marius Corbett, SA spiesgooi op die wêreldkaart, met ‘n junior wêreldtitel in 1994 en wêreldtitel in 1997 in Athene. Dit was ook SA se heel eerste baan en veld wêreldtitel en vir Liebenberg was dit een van sy groot hoogtepunte. Marius se persoonlike beste van 88.75m is steeds ‘n SA rekord.
“Ek sal nooit die 1997 Wêreldkampioenskappe in Athene vergeet nie. Die emosies het veral hoog geloop toe Marius die goud gewen het. Marius het ‘n ongelooflike sterk wil gehad en kon druk hanteer. Wanneer dit saak maak, was hy op sy beste. Sy sukses was werklik ‘n spanpoging saam met die fisioterapeut, Bert Hattingh, wat ‘n groot rol gespeel het,” vertel Liebenberg wat in 1997, 1998 en 2010 ook as die SA afrigter van die jaar aangewys is.
Opsommend behaal NWU spiesgooiers onder sy bekwame afrigting trofeekaste vol prestasies en rekords op senior SA vlak.

Daar is ook 19 nasionale verteenwoordigers, 20 junior nasionale verteenwoordigers en 15 USSA/Studentewêreldspele verteenwoordigers wat die land se naam hoog hou teen die wêreld se bestes. By nasionale en internasionale kampioenskapbyeenkomste behaal NWU spiesgooiers ‘n fenomenale totaal van 397 medaljes wat 154 goud, 131 silwer en 112 bronsmedaljes insluit.
Een van die top vroueatlete in Liebenberg se stal was ongetwyfeld Sunette Viljoen, wat met ‘n persoonlike beste van 69,35 meter (SA rekord), vir ongeveer 16 jaar ‘n lang pad vol hoogte- en laagtepunte beleef het. Haar twee goue medaljes by die 2006 en 2010 Statebondspele sowel as silwer by die 2016 Rio Olimpiese Spele was ‘n bewys van die deursettingsvermoë om by die hoogste vlak te presteer, ongeag die vorige Spele se teleurstellings.
“My eerste Olimpiese Spele in 2008 in Beijing was ook ongelooflik. Dit was wonderlik om in daardie stadion tussen 90 000 mense te wees. Dit was ook baie spesiaal toe Sunette haar Olimpiese medaljedoelwit in Rio bereik het. Ek het ‘n diepe dankbaarheid om deel te kan wees van so ‘n skouspel. Dit is ‘n voorreg.”
Die nuwe generasie wat ook talle puik prestasies onder Liebenberg se leiding behaal is Jo-Ané van Dyk en Johann Grobler, wat elke jaar die universiteit en land se naam hoog hou.
“Jo-Ané en Grobbies is albei baie toegewyde en talentvolle atlete. Ek voorspel dat hulle nog baie in die sport gaan behaal,” brei hy uit oor sy huidige atlete. ‘n Ander massiewe hoogtepunt is die konsekwentheid van NWU atletiek wat sedert 1994, 15 keer as USSA-kampioene gekroon is.
Die NWU behaal ook algeheel 8 tweede plekke en 4 derde plekke in ‘n glorieryke tydperk wat die talent by NWU atletiek beklemtoon.

Terseus se spiesgooiers behaal ook 131 medaljes by hierdie kampioenskappe sedert 1994. Vir die afgelope vyf byeenkomste sedert 2016 is die NWU ook onoorwonne en verseker dit dat Liebenberg gepas as ‘n kampioen sy amp verlaat.
“Al die eer gaan na die afrigters en atlete toe wat elkeen ‘n groot bydrae gelewer het in die USSA suksesse. Op die ou einde gaan dit daaroor om atlete tot hulle volle potensiaal te ontwikkel. Spiesgooi is ‘n reis en ‘n strewe om elke keer verby die volgende afstand te kom.”
Op internasionale gebied is Liebenberg talle kere as SA se gooieafrigter by verskeie byeenkomste aangewys. Danksy sy goeie verhouding met talle top internasionale spiesgooiers en afrigters, is die NWU tans ongetwyfeld een van die top bestemmings vir internasionale atlete in beide baan en velditems.
Liebenberg skryf sy sukses aan harde werk en toewyding toe. Dit is iets wat hy al vanaf kindsbeen by sy pa, Willie (die bekende SA rofstoeier) en sy ma, Dulcie geleer het.
Op Hoërskool Linden slyp Liebenberg sy spiesgooipassie as atleet onder die afrigting van Awie van Rensburg, wat volgens hom ‘n massiewe rol in sy lewe gespeel het. ‘n Ander mentor is prof. Hannes Botha, terwyl hy ook goeie vriende met spiesgooireuse soos onder meer Jan Železny, Uwe Hohn en Kari Ihalainen is.
“Ek is na skool as dosent en mede departementshoof in liggaamlike opvoedkunde by Goudstad Onderwyskollege aangestel en dit is hier waar ek vir Hennes de Wet, Johan Oosthuizen, Wilhelm Pauer en Tom Petranoff afgerig het.”
Vir Liebenberg gaan dit oor die gedurige strewe om te verbeter en uitnemendheid na te streef – basies om beter te wees as gister en te groei en ontwikkel as atleet en mens.
“Jy gee of 100 persent of jy los dit. ‘n Mens moet baie opofferinge maak om die hoogste vlak te kan behaal. Dit gaan oor daardie interne motivering,” vertel Liebenberg, wat die SA meestersrekord in spiesgooi in die ouderdomsgroep 40-44 met ‘n afstand van 65.54 meter hou. ‘n Ander trotse oomblik vir Liebenberg was toe hy sy eie spiesgooiboek The Science and Practice of the Javelin Throw in 2017 bekendgestel het.
Hierdie boek kan beskryf word as ‘n spreekwoordelike spiesgooibybel vir afrigters, atlete en liefhebbers van die sport.

“Ek wou graag ‘n boek skryf en saam met Jan Železny, Kari Ihalainen en dr. Klaus Bartonietz, kon ek ‘n boek skryf wat almal kan gebruik. Toe ek jonger was, was daar nie boeke oor spiesgooi nie en die inligting was moeilik om te bekom. Ek wil graag die leser met inligting en foto’s prikkel oor spiesgooi as ‘n sport,” noem hy.

Liebenberg vertel dat hy nog altyd inspirasie en krag uit sy gesin en familie verkry het. Sy oorlede vrou, Estelle, het hom altyd ondersteun toe hy baie keer vir lang tydperke van die huis af was.
“Ek is baie dankbaar vir Estelle, sowel as my drie wonderlike kinders, Ilse Kristiina, Terry en Heike Liza. Ek is in 2018 met my huidige vrou, Alvera, getroud. Sy is ‘n ongelooflike vrou wat my ondersteun en motiveer. “Haar entoesiasme is aansteeklik, veral as dit by fiksheid kom,” noem hy met ‘n glimlag.
Dit is juis nou dat Liebenberg sy pos verlaat, dat hy meer tyd sal hê om seevakansies te kan hou en ook ‘n oorsese reis saam met Alvera kan onderneem. “Dit is iets waarna ek baie uitsien,” meen Liebenberg, wat ook ‘n voorliefde vir klassieke musiek en ‘n groot versameling albums van soprane besit.
As Liebenberg na sy nalatenskap by die NWU kyk, sal hy graag onthou wil word as iemand wat sy alles gegee het om die NWU sinoniem met uitnemendheid te koppel.
“Dit is vir my belangrik dat NWU Atletiek aanhou om die beste atletiekklub in die land te wees en ek glo dat my opvolger dieselfde ideale sal hê.”
Liebenberg beskryf menige kere sy atlete as “kampioene van die lewe” – en dit is presies wat hy ook is – ‘n uitnemende kampioen van die lewe.




