Daar is Saterdag, 18 Maart geskiedenis gemaak toe twee van Potchefstroom Buiteklub Rolbal (PCC) se jongste spelers, Johandré Britz (10) en Celicia Labuschagne (11) kragte saamgespan het.
Vir die eerste keer in Noordwes Rolbal se geskiedenis het twee van hulle jongste lede kragte saamgespan om as spanmaats die ervare spelers van die klub aan te vat in die klub se jaarlikse gemengde pare kompetisie.
Hierdie twee leerlinge van Laerskool Bailliepark het albei al Noordwes-kleure verwerf om die provinsie by die nasionale o.20 toernooi wat jaarliks in Bloemfontein gehou word, te verteenwoordig. Dié twee staan vir geen teenstaander terug nie.
Die miete dat rolbal slegs vir ons ouer gardes is, is lank iets van die verlede. Hulle is albei baie opgewonde oor die sport waarvan so min mense weet. Hulle sal enige leerling van Bailliepark en enige ander skole uitdaag om te kom uitvind waarom hul rolbal as sport so geniet.
Potchefstroom Buiteklub Rolbal huisves tans die hoogste getal jong spelers onder die ouderdom van 20 jaar. Sewe van die 10 uit Noordwes is gekies om die provinsie in Bloemfontein te gaan verteenwoordig, waar daar sowat 600 jong kinders onder die ouderdom van 20 jaar aan die nasionale toernooi deelneem.
Potchefstroom Buiteklub Rolbal se grootste wens is om ‘n skoleliga aan te bied waar hulle die jeug aan rolbal bekend kan stel.
Enige belangstellendes kan PCC Rolbal se president, Werner Hildebrand by 082 513 3280 skakel.



