SportSport

Waldouw klop beseringspook om spies 80 meter te laat trek

Hierdie top atleet is nou in Europa waar hy in verskillende atletiekbyeenkomste gaan deelneem.

Die pad na die 80 meter merk vir plaaslike NWU-spiesgooier, Waldouw Smit, was vol kronkels, draaie, ompaaie en dalk ‘n paar dorings tussenin.

Vir die afgelope vyf jaar moes die voormalige Potchefstroom Gimnasium-leerder knaende rug-en elmboogbeserings trotseer – iets wat heel moontlik sy spiesloopbaan finaal kon stop het.

Soos enige top atleet het Waldouw wel nie opgegee nie en sy beserings oorkom om weer nes in sy skooldae die spies triomfantlik deur die lug laat sweef.

Waldouw Smit tydens ‘n byeenkoms vanjaar. Foto: Shaun Bownes.

Hy het by ‘n atletiekbyeenkoms in Sasolburg op 28 Mei dit uiteindelik reggekry om die 80-meter mylpaal te haal met ‘n nuwe persoonlike beste gooi van 80.96 meter.

Waldouw, wat in 2017 matrikuleer het, het as skole-atleet by Potchefstroom Gimnasium naam gemaak en is as SA-kampioen gekroon. Hy was ook eerste in die Wêreld vir spiesgooi (700gram) op ‘n stadium in 2016 met ‘n gooi van 79.92 meter.

In 2017 begin die beserings…en ‘n uiteindelike ligpunt in Junie 2021.

“Toe ek 18 jaar oud was het ek by Barend Steyn ingeval om met my besering te help. Hy het my twee jaar gehelp. Ek het na ander sporte toe oorgeskuif, omdat ek nie gedink het dat ek ooit weer sou spiesgooi nie,” vertel Waldouw.

“Ek het in Junie 2021 weer aan ‘n spies gevat en verbasend kon ek weer gooi. Ek het in November 2021 aan my eerste kompetisie deelgeneem en ‘n 75.75 gegooi. Ek het toe aangesluit by Oom Terseus (Liebenberg) en toe het Anita (van der Lingen) my begin help met my rug en elmboog-beserings,” noem hy.

Waldouw Smit, Anita van der Lingen (Fisioterapeut) en Terseus Liebenberg (afrigter). Foto: Wouter Pienaar.

Daar is drie sleutelfigure wat ‘n groot rol speel in Waldouw se terugkeer. Eerstens, sy oupa, Koos Smit, wat vir jare sy spiesgooi-afrigter was en hom daagliks steeds ondersteun. Tweedens, sy spiesgooi-afrigter, Terseus Liebenberg, wat met sy kennis en afrigting hom na uitnemendheid neem. Derdens, sy fisioterapeut, Anita van der Lingen, wat hom weer danksy baie sessies weer in top vorm gekry het.

“Oom Ters bring motivering by elke oefening vir ons oefengroep. Anita is altyd bereid om mens te help. Sonder hulle twee sou ek nie kon terugkeer na die sport nie en sou ek dalk opgehou het,” meen Waldouw.

“My oupa het die spiesgooisaadjie by my geplant en ek het my liefde daarvoor ontdek. Ek is baie dankbaar dat my oupa my blootgestel het en ‘n liefde vir die sport gegee het. Hy speel nou die rol van motiveerder en ek is elke dag baie dankbaar vir hom,” sê Waldouw.

Hierdie top atleet is nou in Europa waar hy in verskillende atletiekbyeenkomste gaan deelneem. Hy gaan in die Wêreldatletiek se Kontinentale Toer in die Tsjeggiese Republiek, Slowakye, Swede en Spanje gooi.

“Dit is my eerste keer oorsee en ek sien baie uit na die byeenkomste. Vir die langtermyn is enige atleet se droom om Olimpiese Spele toe te gaan. My volgende mikpunt is 85 meter en dit is graag wat ek in die volgende jaar wil bereik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button