
Klerksdorprugbyklub en die Hurricanes van Stilfontein gaan vanaand (21 Junie) om 18:30 hulle Neserliga-hafleindstryd oorspeel.
Dit nadat die wedstryd wat Saterdag (18 Junie) gespeel was, weens donker afgeskaf moes word.
Klerksdorp het ten tyde van die afskaffing van die wedstryd met ‘n kortkop voorgeloop. Tog was die wedstryd weens ‘n tekort aan mediese personeel met 45 minute vertraag.
Volgens Mervyn Taylor, president van die Luiperds rugbyunie, moes die paramedici wat die dag by Markotter stadium (Klerksdorp se tuisveld) aan diens was, iemand na die tweede span wedstryd hospitaal toe neem.
“Die wedstryd kon nie begin sonder paramedici nie,” het Taylor gesê.
Volgens hom is die reëls van die liga dat ‘n wedstryd na 30 minute gekanselleer moet word. Die twee spanne het mekaar tegemoet gekom en die wedstryd is gespeel. Die reëls sê ook dat die span wat voorloop ten tyde van ‘n afskaffing van ‘n wedstryd as die wenners verklaar moet word.
Daar was maar drie punte in die wedstryd tussen die twee klubs, en die wedstryd kon met 15 minute oor nog enige kant toe gaan.
“In oorleg met die dagbestuur van Luiperds klubrugby het ons besluit dat die mees regverdige ding om te doen is om die wedstryd op ‘n neutrale veld oor te speel,” het Taylor gesê.
Die wenner van vanaand se wedstryd gaan dan, 25 Junie weer Potchefstroom toe moet reis, waar hulle teen Potch Dorp in die eindstryd te staan gaan kom. Dorp het hulle wedstryd Saterdag (18 Junie) gemaklik teen Westonaria met 50 – 17 gewen. Dorp se kanse om hulle Neserliga titel te verdedig begin al beter lyk.
Beide Klerksdorp en Hurricanes gaan ‘n groot poging aanwend om in die finaal te kan speel. As die wenner van hierdie wedstryd gelukkig is dat daar geen beserings opgedoen word nie, gaan daar steeds ‘n paar stywe lywe, teen Saterdag wees.
Die wedstryd skop om 18:30 by Olënpark af. Toegang is gratis
Vir meer plaaslike rugbynuus besoek:
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-rugby-hub/



