NWU Atletiek se trotse SA verteenwoordigers is alreeds tuis in Eugene, Oregon in die VSA by die 2022 Wêreld Atletiekkampioenskappe wat vanaf 15-24 Julie plaasvind.
Shaun Bownes (spanafrigter), sowel as die twee spiesgooiers, Jo-Ané van Dyk en Johann Grobler is nou daar tussen die top atlete in die wêreld en sal graag hulle staal wil wys.
Jo-Ané is tans die Afrikakampioen in vroue-spesigooi en Grobler het self ook ‘n vierde plek by die Afrikakampioenskappe in die mansafdeling behaal.
Hierdie twee atlete word deur die NWU spiesgooiafrigter, Terseus Liebenberg, afgerig.

Grobler sal Donderdag, 21 Julie in aksie wees in die eerste kwalifiserende rondte. Die mansfinaal sal op Saterdag, 23 Julie plaasvind. Van Dyk sal op Woensdag, 20 Julie in aksie wees en sal ook graag die finaal op Vrydag, 22 Julie wil behaal.

Bownes is die eer toegeken om as afrigter van die SA span op te tree. Hierdie voormalige Statebondspele goue medaljewenner in die 110m hekkies, sal ook die SA span by vanjaar se Statebondspele in Birmingham, Engeland vanaf 28 Julie-8 Augustus afrig.




