Luister die artikel hier:
Die speler van die toernooi by die o.19 SA Netbal kampioenskappe, Sunel Smit, reik letterlik en figuurlik na hoër hoogtes.
Hierdie 1.93 meter lank doel het in Dr. Kenneth Kaunda kleure ‘n briljante toernooi beleef waar sy doele ingeryg het met haar goeie posisionele spel en oog vir die teiken. Hierdie nederige jong netbalspeler is wel gou om te noem dat sy op haar beste speel wanneer haar span as ‘n eenheid saamwerk.
Volgens haar was sy uit die veld geslaan toe sy die toekenning vir Speler van die Toernooi ontvang het.
“Dit is werklik vir my ‘n baie groot eer. Ek het dit glad nie verwag nie, maar ek is ongelooflik dankbaar daarvoor. Die span se sukses is definitief die belangrikste. Sonder hulle sou ek nie kon kom waar ek is nie,” noem Sunel.
Sy meen dat die span se goeie konneksie en gees ‘n groot rol in hulle bekersege gespeel het.
“’n Groot aandeel in die wen is omdat ons vir mekaar en vir God gespeel het.”
Sunel is ook ‘n oud-Gimmie en is tans ‘n NWU netbalspeler en eerste jaar B.sc farmasie student op die Potchefstroom kampus.
Netbal was nog altyd Sunel se langtermyn plan veral vandat sy in graad 9 die voorreg gehad het om by die Internasionale Jeug Netbalkampioenskappe in Singapoer te speel.

“Ek het al op laerskool in my eerste jaar van netbal, in graad 3, ‘n liefde vir die sport ontwikkel en van daar af het dit elke jaar gegroei. My laerskool afrigter, Elize Janse van Rensburg, hoërskool afrigter, Marike Maree, my huidige afrigter by NWU, Elsunet du Plessis en ons Dr.KK span afrigter, Tracey Magwebu het ’n baie groot impak op my netballoopbaan gemaak,” vertel sy.

Sunel se strategie is om die spasie in die doelsirkel optimal te benut en seker te maak dat verdedigers haar nie keer om in die beste posisie te kom nie. Sunel het ook al self as verdediger gespeel so dit gee haar ‘n voordeel aangesien sy ook ‘n idee het wat die opposisie sou doen as sy in hulle skoene was.
“Vir my is dit belangrik om die spasie in die doelsirkel en rondom die doelpaal te “verdedig” sodat dit maklik is vir my spanmaats om die bal vir my te voer en om uiteindelik die doel te sink,” verduidelik sy.
Volgens haar span is haar rustigheid onder druk een van haar sterkste punte.
“My lengte speel ook ‘n groot rol in my spel. Te danke hieraan is ek “sterk in die lug” wanneer dit kom by spring en oorballe vang. Daar is altyd plek vir verbetering en ek sal graag in elke aspek van my spel as doel wil verbeter,” meen Sunel.
Daar lê nog twee groot toernooie die jaar voor vir Sunel naamlik die, SPAR Nasionale Netbalkampioenskappe, asook die Varsity Netbalbeker.
“My doelwit is om my hart uit te speel en te leer en groei met elke geleentheid wat aan my gegee word ten voordeel van die span.”




