SportSport

Potch se eie sportster lewe atletiekdroom uit in Amerika

Die Universiteit van New Mexico het hulle oog op Danielle vanaf 2018 toe sy slegs in graad 9 was by die Wêreld Landloopkampioenskappe, en haar beurs was amptelik gemaak in Maart vanjaar.

Danielle Verster, die top 1500m atleet en voormalige SA kampioen, het amptelik op 16 Augustus by die Universiteit van New Mexico in Amerika begin studeer met ‘n volle beurs vir atletiek.

Sy is bekend in die Potchefstroom gemeenskap vir haar uitstekende prestasies in atletiek deur die jare. Dit sluit in SA Seniors 2021 waar sy eerste plek behaal het in 1500m. Haar onlangse deelname by die Wêreld o.20 Junior Atletiekkampioenskappe van 1 tot 6 Augustus in Colombië in Suid-Amerika, vat egter die koek – sy het ‘n 9de plek behaal in die 1500m finaal met ‘n blitsige tyd van 4:16.36.

“Dit was ‘n ongelooflike ervaring en ek voel baie positief oor hoe ek gevaar het,” vertel Danielle opgewonde.

Danielle Verster tydens vanjaar se o.20 Wêreld o.20 Junior Atletiekkampioenskappe waar sy ‘n negende plek in die 1500m item behaal het. Foto: Verskaf

Dit is die tweede en laaste keer wat Danielle deelgeneem het aan die Wêreld Junior Atletiekkampioenskappe. Haar mikpunt is om te kwalifiseer vir die Senior Wêreldkampioenskappe in 2023 met ‘n toelatingstyd van 4:04. Haar huidige persoonlike beste is 4:13.78 wat sy vanjaar in April aangeteken het.

Danielle is ‘n trotse Potchefstromer wat ook hier gebore is. Sy was op skool in Laerskool Mooirivier en Potchefstroom Gimnasium waar dit reeds duidelik was dat sy ‘n talent vir atletiek het. Sy het wel vele ander sportsoorte op skool gedoen wat tennis, netbal, swem en gimnastiek insluit.

Sy neem nou aan landloop en 800m ook deel, met 1500m as haar hoofitem.

Danielle het hoofsaaklik by die NWU McArthur Atletiekstadion of die Mooivallei Sportterrein, asook by die HPI gimnasium geoefen. Sy is deel van die Potchefstroom Track Club wat deur Nike geborg is, en Danielle is ook individueel deur Nike geborg.

Haar ouers, Jean en Alta Verster, is bekende gesigte in die atletiekgemeenskap. Danielle se pa het haar afgerig van die begin van haar atletiekloopbaan af. Jean is ‘n bekende middelafstand-afrigter en werk by die Noordwes-Universiteit as die NWU se Hoë Prestasie Instituut (HPI)-direkteur. Hy het al baie top atlete, insluitend Caster Semenya, afgerig en is ook in 2017 as Afrigter van die Jaar by die SA Sport Awards toekenningsaand, aangewys.

Danielle Verster op pad na haar oorwinning in die vroue o.20 800m wedloop. Foto: Wouter Pienaar

Danielle gaan nou egter vir die eerste keer in haar lewe nuwe afrigters in Amerika hê – Joe Franklin en Laura Bowerman. Hulle het atlete soos Josh Kerr (1500m) en Courtney Frerichs (hindernis) gelei om albei medaljes by die Olimpiese Spele te wen.

Joe Franklin, Danielle Verster se afrigter in Amerika by die Universiteit van Nieu-Meksiko.

“Vandat ek kan onthou wou ek atletiek doen. My droom is om te wen by die Olimpiese Spele,” verduidelik Danielle doelgerig.

Danielle Verster kom negende in haar 1500m-item

Die Universiteit van New Mexico het hulle oog op Danielle vanaf 2018 toe sy slegs in graad 9 was by die Wêreld Landloopkampioenskappe, en haar beurs was amptelik gemaak in Maart vanjaar. Alhoewel sy gaan deelneem aan atletiek vir hierdie universiteit in Amerika, sal Danielle steeds getrou aan Suid-Afrika bly en in groen en goud deelneem as sy later sou kwalifiseer vir die Olimpiese Spele.

Sy is ingeskryf vir Algemene Studies en haar vakke sluit Engels, Wiskunde, Biologie en Sielkunde in. Sy kan later haar spesifieke rigting kies en nou eers fokus op atletiek en landloop. Danielle vertel verder dat sy eendag nadat haar atletiekloopbaan verby is, steeds altyd betrokke by atletiek wil wees, moontlik later as ‘n fisioterapeut. Sy voeg by dat as sy nie betrokke was by atletiek nie, sou sy graag ‘n sjef wou wees omdat gesonde kos een van haar ander groot liefdes is.

Jean Verster, Danielle Verster se pa en afrigter.

“As ek klaar is in Amerika sal ek later weer in Potch wil woon,” sê Danielle met blydskap oor haar tuisdorp. Danielle sien die meeste uit om nuwe mense te leer ken en om hierdie nuwe geleenthede te gebruik om haar atletiek te bevorder in Amerika.

Sy sê die volgende aan al haar ondersteuners in Potchefstroom: “Ek waardeer almal se ondersteuning en die kleinste boodskap help so baie en beteken die wêreld vir my.”

Danielle se lewensmotto kan opgesom word in een van haar gunsteling aanhalings:

No dream is too big and no dreamer is too small.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button