SportSport

Sesde titel vir Volkie-tennis se Smitte

Ses oorwinnings in ses finale waar die Smitte betrokke was – ‘n beter rekord kry jy nie sommer nie.

Die Smit-broers, Franco (26), Van Zyl (21) en Christiaan (18) is onlosmaaklik deel van Hoër Volkskool Potchefstroom se seëvierende eerste tennisspanne wat in die afgelope nege jaar die Noordwesliga ses keer verower het.

Franco het in sy matriekjaar in 2014 die eerste keer die NW-titel ingepalm en dit was die katalisator vir nog vier titels wat Van Zyl en sy spanmaats in 2015,2016, 2018 en 2019) behaal het.

Van Zyl Smit (21), Christiaan Smit (18) en Franco Smit (26) vier die sesde NW tennistrofee wat hulle familie deel van was. Christiaan was deel van Volkies se eerste tennisspan wat vir die sesde keer in 9 jaar die trofee gewen het. Foto: Verskaf

Weens Covid-19 is die 2020 en 2021 seisoene gekanseleer, maar dit het nie in die pad van die jongste boetie, Christiaan, gestaan nie, want in Augustus 2022 kon hy ook die NW-titel vashou en in sy ouer broers se voetspore volg. Hy en sy span (Schalk Pienaar, Kobus Pienaar en Cornéll Grobler) wen 7-1 in ‘n oortuigende vertoning.

Ses oorwinnings in ses finale waar die Smitte betrokke was – ‘n beter rekord kry jy nie sommer nie.

Die Smitte se suksesverhaal op die tennisbaan bevat vele hoofstukke en begin daadwerklik toe Franco in 2010 as graad 8-leerder vir Volkies in die provinsiale interskole-finaal verteenwoordig het.

“Hy was bly om deel van die sesde span te wees wat die 6de liga gewen het maar hy was baie vasberade in sy voorneme dat Volkies in die eerste liga sal deelneem en wen voor hy klaar is met skool,” noem hul pa, Francois.

Hy het by sy voorneme gehou toe hy en sy drie spanmaats in 2014 as Noordwes eersteliga seunskampioene bekroon is. Die wedstrydtelling was 4 elk maar een stel ekstra het die ding gedoen. Wat hierdie wen nog meer merkwaardig gemaak het was die feit dat Rustenburg Hoërskool twee provinsiale spelers in hul span gehad het terwyl Volkies geen provinsiale spelers gehad het nie.

Van Zyl Smit in aksie vir Volkies. Hy het die NW-titel vier keer verower.

In 2015 was Van Zyl as graad 8 leerder deel van Volkies se eerstespan wat weer in die finaal gespeel het teen Wesvalia. Sy opponent was Zander Botha, die hoofseun van Wesvalia, wat in postuur en uit die aard van sy posisie as leier redelik intimiderend was. Die klein graad 8 speler was egter aangespoor deur ouboet langs die veld, Volkietrots sowel as ‘n bus vol ondersteuners.

Schalk Pienaar
Christiaan Smit,
Cornéll Grobler en
Kobus Pienaar – die wenners van die NW eerste tennisliga van 2022.

Hy het vir die opskudding van die dag gesorg deur sy enkelwedstryde te wen en deel te wees van Volkies se wenspan wat die tweede jaar in ‘n ry as Noordwes-kampioene gekroon is.

Die prestasie is herhaal in 2016 teen Rustenburg Hoërskool maar in 2017 moes Volkies teen Rustenburg in die uitspeelrondtes die knie buig. In 2018 was dit Rustenburg, die verdedigende kampioene wat die knie moes buig. Rustenburg was so seker van ‘n wen dat hulle nie eers die trofee saamgebring het na die finaal toe nie. Volkies het 6-2 gewen en die Noordwes skild was weer op sy plek. Martin Fourie, Van Zyl, Christopher de Freitas en Willis Viljoen was ‘n gedugte kombinasie.

Christiaan Smit (18) is die nuutste seun in die Smit-gesin wat in tennis uitblink.

In 2019 was die finaal ‘n epiese stryd tussen die twee aardsvyande van Potch, Volkies en Gimmies. Van Zyl, Christopher de Freitas, Willis Viljoen en Cornell Grobler het dit reggekry om amper vanuit ‘n onmoontlike posisie te wen. Die vyfde titel was in die sakkie en daar was min twyfel oor wie baas was op die tennisbaan in Noordwes is.

Covid-19 het die seuns toe twee jaar van die tennisbaan gehou.

By die Smitte se huis was daar ‘n daaglikse mini-toernooi tussen die drie broers tydens grendeltyd. Christiaan het al hoe meer gereeld as wenner van die baan gestap en hy kon nie wag vir ‘n geleentheid om Volkies op die tennisbaan te verteenwoordig nie.

In 2022 was die lang wag verby en Christiaan, Cornell Grobler en die Pienaar broers, Cobus en Schalk, het met Wesvalia, Vryburg en Wolmaranstad afgereken om as poelwenners te kwalifiseer vir ‘n halfeind teen Rustenburg. Die telling van 6-2 weerspieël nie hoe taai die stryd was nie. Die finaal was teen KHS, wat deur Volkies oortuigend met 7-1 gewen is.

Soos aan die begin van die jaar beloof was Franco, Van Zyl en Luné (hulle suster) langs die baan om hulle jongste boetie aan te spoor om die trotse Volkie tradisie voort te sit.

Van Zyl het Noordwes vir 10 jaar op provinsiale vlak verteenwoordig vanaf graad 3 tot 12. Christiaan het Noordwes ook op skolevlak verteenwoordig in 2017, 2019 en 2022. Franco het die Volkietrots aangevuur, op die baan en op elke ander terrein. Sy wil om vir Volkies te wen was aansteeklik, nie net vir sy twee jonger broers nie maar vir elke tennisspeler saam met hom en daarna.

Christiaan saam met pa, Francois en ma, René.

Al drie broers het ook vir Volkies se eerste krieketspan uitgedraf.

Volgens Francois het hulle tennisafrigter Louis Bartlett en krieketafrigters Andries Huisamen en Wynand “Duimpie” Schmitt, ‘n reuse invloed in hierdie kinders se lewens gehad.

“Tennis het aan hulle die geleentheid gebied om op gelyke vlak op ‘n sportveld te kompeteer, vir ‘n skool maar ook teen mekaar. Hulle het goeie vriende gemaak, geleer om hard te werk, vas te byt en die lekker van wen te geniet. ‘n Brokkie van hulle hart sal altyd by Volkies bly.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button