
Die lopies het behoorlik gevloei in die Noordwes Premier Krieketliga wedstryde die afgelope Saterdag (8 Oktober).
Die NWU het met 322/5 vir Potch Dorp (227 almal uit) met 95 lopies geklop. Hier het Heinrigh Pieterse se 154 (146) die platform vir oorwinning vasgestel.
Ibbies het ‘n allemintige 410/6 in 50 beurte teen Ikageng aangeteken in ’n eensydige stryd wat hulle met 354 lopies gewen het. Ikageng word vir slegs 56 uitgeboul. Ibbies se Herman Neveling neem 5/16. Quinton Venter moker 148 (126) vir Ibbies.
Impala Precrete van Rustenburg behaal ook ’n gemaklike 247 lopie-oorwinning teen NWU Taurus. Impala moker 377/6 met Estiaan Schonfeld wat ‘n briljante 224 (138) aanteken. Taurus kan net 130 almal uit maak.
Travelling Reefs stel wel die grootste totaal met 488 almal uit teen Mafikeng. Hier slaan Anton Potgieter 170 van slegs 96 balle met Pieter Ranft wat ook ‘n honderdtal (108* van 53) aanteken. Tiaan Joubert neem 5/44 om Mafikeng vir slegs 127 uit te boul.
Die opwindendste wedstryd van die week is die een tussen Reinke 9T20 Eleven en Ramblers van Vryburg. Die 9T20 span wen met 4 paaltjies danksy die boulwerk van Erik Wyma (3/35) en Christian Viljoen (3/32). Ramblers is almal uit vir 97. Die 9T20 manne behaal die wen met DG Fourie 21* (20) en Francois Viviers 39 (42) wat die platform vir die Potchefstromers stel.




