Die NWU het gisteraand, 13 Maart, die verdedigende kampioene, Tuks op tuisbodem geklop.
Die Potchefstromers moes vasbyt om die tuisspan 26 -22 te wen. Die NWU se werksverigting op verdediging het op die einde die wa deur die drif getrek. Na diè oorwinning is die NWU weer bo aan die Varsitybeker se punteleer en Tuks wat nog nie ‘n wedstryd vanjaar gewen het nie is heel onder.
Dinge het swaar vir die NWU Arende begin nadat hulle, hulle kaptein, Vernon Paulo in ide 24ste minuut verloor het. Dit het die NWU se reeds sukkelende lynstane nog moeiliker gemaak. Die Arende het nege keer besit in die lynstane verloor.

Die agterlyn het die meeste gemaak van teenaanvalle en die gladde heelagter, Tino Swanepoel het twee keer onder die pale gaan kuier, terwyl Keano Windvogel en Theuns Pretorius ook ‘n bydra tot die bonuspunt sege gelewer het.
Die Arende moes teen die einde ‘n uitputtingsoorlog voer om die vlae van Tukkies aanvalle te stuit. Goeie karakter en uithouvermoë het hulle in die taak gehelp.
Die NWU speel hulle volgende wedstryd op die Fanie du Toit sportgronde teen CUT. Die Ixias, het ook nog net een wedstryd verloor en is die verassingspakket van die toernooi. Hulle het reeds vir Tuks, Maties en UJ geklop. Die NWU breintrust sal met goeie planne vorendag kom om die Bloemfonteiners te uitoorlê.
Volgens Burger van der Weesthuizen, hoofafrigter van die NWU, gaan komende Maandagaand se wedstryd ‘n moeilike een wees.
“Alles wat ons doen moet verbeter, veral die vaste fasette en ons dissipline,” het Van der Westhuizen gesê.



