Een van Potchefstroom Gimnasium se top atlete, Stephané Hook, het haar fantastiese vorm vanjaar voortgesit met ‘n goue medalje in die o.16 dogters speisgooi-item by die ASA Junior en Jeug Atletiekkampioenskappe in Pietermaritzburg.
By die Msunduzi Atletiekstadion in drukkende humiditeit het Stephané goud ingepalm met ‘n gooi van 46.54 meter.
Sy was sodoende ook die eerste atleet van Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW) wat goud by vanjaar se byeenkoms gewen het. Die bekende plaaslike afrigter, Koos Smit, rig haar af.
Ewald Jansen van KHS het ook in o.18 spiesgooi item vir ACNW trots gemaak met nog ‘n goue medalje. Hy het ‘n afstand van 68.57 meter gegooi.
Nog ‘n Gimmie, Righardt Joubert, het ook sy staal bewys met ‘n bronsmedalje in die seuns o.16 100 meter item. Hy het eerste plekke in die uitdun en semi ook behaal. Hy moes in een dag ook aan 5 items (100m hekkies en aflos) deelneem, wat hierdie prestasie nog meer indrukwekkend maak.
Gimmies se ander atlete het ook top prestasies behaal met Anika Botes, Righardt Joubert, Sandri van Rooyen en Sihle Mahlangu wat bronsmedaljes verower.
Botes behaal ‘n skitterende derde plek in die dogters o.16 200 meter wedloop in ‘n tyd van 25.40 sekondes. Van Rooyen behaal ‘n bronsmedalje in ‘n tyd van 12.01 sekondes in die dogters o.18 wedloop.
Van Rooyen kom ook vierde in die 100 meter hekkies en mis net-net op ‘n tweede medalje by hierdie kampioenskappe.
Mahlangu mis ook skraps uit op brons in die 400 meter seuns o.18 wedloop, maar vergoed met ‘n bronsmedalje in die seuns 4×400 meter aflos.
Joubert, het ook sy staal bewys met ‘n bronsmedalje in die seuns o.16 100 meter item. Hy het eerste plekke in die uitdun en semi ook behaal. Hy moes in een dag ook aan 5 items (100m hekkies en aflos) deelneem, wat hierdie prestasie nog meer indrukwekkend maak.
Algeheel behaal Atletiek Sentraal Noordwes se span 5 goud, 3 silwer en 12 bronsmedaljes by hierdie kampioenskappe wat vanaf 23-25 Maart plaasgevind het.






