Die ACNW spiesgooier, Waldouw Smit, het Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW) se eerste goue medalje op tuisveld behaal vandag (Donderdag, 30 Maart) by vanjaar se ASA Senior Atletiekkampioenskappe op die NWU McArthur-stadion.

Smit (23), ‘n voormalige leerder van Potchefstroom Gimnasium, was in ‘n titaniese stryd met sy ACNW spanmaat, Johann Grobler, gewikkel met Smit wat sy spies 1,07 meter verder kon gooi om goud te behaal. Sy afstand van 74.59 meter was genoeg om Grobler se 73.52 meter te klop. Henru van Vuuren (Atletiek Gauteng-Noord) is derde met ‘n afstand van 72.13 meter.
Foto’s: Barco Greeff
Dit is ook Smit se eerste SA senior spiesgooi-titel. Die voormalige SA skolekampioen moes die afgelope paar jaar van beserings herstel en sy reis na SA senior goud is nie een sonder taai oomblikke nie. Tog bewys hy nou onder die afrigter van Terseus Liebenberg dat hy nog ver in hierdie sport kan gaan en ‘n atleet is om beslis dop te hou.
Nog een van Liebenberg se atlete, Jo-Ané van Dyk, behaal ook SA goud in die vroue spiesgooi-item met ‘n afstand van 60,97 meter net onder haar persoonlike beste van 61.61 meter. Dit is haar vierde SA senior spiesgooi-titel.
Die huidige Afrika-kampioen was die gunsteling en het bewys vanmiddag hoekom dit die geval is. ACNW spiesgooiers, Savannah Combrinck (49.03 meter), Clarissa Weyer (48.42 meter) en Maggie le Roux (48.02 meter) het net op medaljeplekke uitgemis.
Jana van Schalkwyk (Boland) met ‘n 55.45 meter gooi en Chane van Zyl (AGN) met ‘n 49.34 meter gooi neem die ander podiumplekke.
Ander opwindende finale wat vandag plaasvind op dag 1 van die SA Atletiekkampioenskappe in Potch plaasvind:
15:30 – Mans 10 000 meter
16:00 – Vroue hoogspring
16:00 – Vroue gewigstoot
16:00 – Mans diskus
17:30 – Vroue 100m
17:40 – Mans 100m










