Twee uitstaande tennisspelers van die Riaan Venter Tennisakademie (RVTA) gaan die Suid-Afrikaanse senior span by opkomende Billie Jean King-beker in Oeiras, Portugal vanaf 10-15 April verteenwoordig.
Mari-Louise van Zyl (16), sowel as Suzanie Pretorius (18) gaan Suid-Afrika se naam wil hoog hou tydens die Europa/Afrika groep II kwalifiserende reeks van die Billie Jean King-beker. Die Billie Jean King-Beker was voorheen bekend as die Fedbeker en is die top nasionale vroue tennistoernooi.


Isabella Kruger (dogter van voormalige Springbok, Ruben Kruger), sowel as Naledi Manyube is in die SA span ingesluit. Kruger, Van Zyl en Pretorius maak in Portugal hulle buigings vir Suid-Afrika op senior vlak. Roxanne Clarke voer hierdie jong span as kaptein aan.
Dit is ‘n fantastiese prestasie vir twee sulke jong tennisspelers wat deur Riaan Venter afgerig word, om hulle land op hierdie hoë vlak te kan verteenwoordig.
Daar is ook ‘n wortel voor die neus van die Suid-Afrikaanse span wat moontlik na groep I kan opskuif indien hulle as een van die top twee lande uit 11 eindig. As Suid-Afrika volgende jaar in groep 1 speel kan hulle dan vir die finale rondte kwalifiseer.

Die volgende 11 nasies sal in 2023 in Europa/Afrika Groep II deelneem:
Bosnië en Herzegowina, Estland, Georgië, Griekeland, Ierland, Israel, Kosovo, Litaue, Malta, Portugal en Suid-Afrika.
Daar sal twee poele wees (een van ses en een van vyf). Die top twee spanne in elke poel sal vir promosie na groep I vir volgende jaar uitspeel.



