Na ‘n uitstekende atletiekseisoen het Sihle Mahlangu van Potchefstroom Gimnasium seker gemaak dat al die harde werk tel toe hy die o.17 seuns 400 meter wedloop by die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekampioenskappe gewen het.
Sodoende is hy een van drie Gimmies wat vanjaar goud by hierdie kampioenskappe verower het. Die ander twee is Sandri van Rooyen (100, 100m hekkies en aflos) en Stephane Hook (spiesgooi).


Hierdie wedloop wat op Dinsdag, 4 April in Germiston plaasgevind het was tekenend van Sihle se talent toe hy omtrent die hele wedloop gedomineer het.
Sihle, wat ook deel van die NWU se Centre of Health and Human Performance (CHHP) Youth Excellence Program is, het ‘n goeie pas volgehou en in ‘n puik tyd van 47.55 sekondes klaargemaak.
Sy naaste teenstander, Llewellyn Harmse van Gauteng het om op die laaste 100 meter probeer inhaal, maar dit was tevergeefs. Harmse eindig tweede in 47.74 sekondes.
Kyk die video hier: ( SuperSport Schools/Grigora Sport)
Wat Sihle se oorwinning nog meer spesiaal maak is dat hy vanjaar vir die eerste keer werklik op die 400m gefokus het. Voorheen was hy ‘n op hoogspring gespits.
Hy is self in ekstase oor sy onverwagse wen.
“Ek is oor die maan om SA’s te wen, veral omdat dit my eerste seisoen is waar ek op die 400m fokus,” noem hy.
Die bekende hoogspringafrigter, Martin Marx, is Sihle se hoofafrigter. Die voormalige SA naelloper, Paul Gorries, het ook vir Sihle in die 400m vanjaar bygestaan en aan sy tegniek gewerk.
Sihle is ook ‘n top hoogspringatleet. Hy het wel verlede jaar ‘n besering opgetel en sodoende het hy sy fokus na die baan toe vir hierdie seisoen verskuif.






