Daar is groot vreugde vir die Noordwes-Universiteit (NWU) nadat een van hulle top spelers, die doelskieter, Elmeré van der Berg, vir Suid-Afrika se 2023 Wêreldbekerspan gekies is.
Die 2023 Netbalwêreldbeker vind vir die eerste keer in Suid-Afrika in Kaapstad vanaf 28 Julie – 6 Augustus plaas.

Sodoende het Van der Berg die gulde geleentheid om haar land op tuisbodem in hierdie gesogte toernooi te verteenwoordig.
Van der Berg is deel van ‘n sterk Protea-groep wat op Vrydag, 19 Mei, amptelik aangekondig is.
Bongi Msomi sal die span lei met die ervare, Karla Pretorius, as onderkaptein.

Jeanté Strydom, ‘n oud-NWU alumni en Varsity Netbalwenner in 2015 en 2016 sal ook ‘n groot rol vir die Proteas speel.
Die oud-Volkie, Ine-Mari Venter, vorm ook deel van die Proteas se doelskieters tesame met Lenize Potgieter. Albei Venter en Potgieter se vorm sal kritiek wees in die Proteas se hoop om die beker op tuisbodem te lig.
SA 2023 Netbalwêreldbeker-groep
Bongiwe Msomi; Karla Pretorius; Khanyisa Chawane; Izette Griesel; Owethu Ngubane; Refiloe Nketsa; Phumza Maweni; Lenize Potgieter; Lefebre Rademan; Nicola Smith; Jeante Strydom; Nichole Taljaard; Elmere van der Berg; Shadine van der Merwe, Ine-Mari Venter.





