Die opgewondenheid loop hoog in die aanloop tot die 2023 FNB Classic Clash sportnaweek waar Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom vanaf 26-27 Mei vanjaar in rugby, netbal en hokkiewedstryde die stryd gaan aansê.
Hoofde, lede van die beheerliggaam, sportdirekteure, afrigters, hoofleiers en die betrokke kapteins het vanoggend by The Roots Lifestyle Centre bymekaar gekom om amptelik die Gimmie-Volkie week te open. Die Potchefstroom Sakekamer was ook teenwoordig aangesien hulle ook ‘n groot aandeel in die Gimmie-Volkie naweek het met die Borg ‘n Boom-inisiatief.
Foto’s: Wouter Pienaar
Gimmies is die eregaste vanjaar en sal graag vir hulle teenstanders wil wys wie die top skool in Potch op die sportvelde is. Eweneens sal Volkies vir Gimmies dieselfde medisyne wil gee.
‘n Bietjie kompetisie was nog nooit sleg nie, maar beide hoofde, Mnre. Willie van der Merwe (Potchefstroom Gimnasium) en Terry Nicholenas (Volkskool Potchefstroom) stem saam dat alle kompetisie tot voordeel van die band tussen die twee skole sowel as Potchefstroom moet strek.

Die Classic Clash is juis ‘n spesiale byeenkoms waar oud-Gimmies en oud-Volkies tesame met die hele dorp uitsien na lekker saamkuier, bande smee en na uitblinker sport kyk.
Die Herald het ook met die betrokke kapteins van rugby, netbal en hokkie gaan gesels oor hoe hulle uitsien na die groot sportnaweek.
Kyk die video hier:
Vir hierdie matrieks is dit ‘n geleentheid om hulle skoolloopbaan met ‘n hoogtepunt af te sluit. Hierdie naweek skree die hele skool vir hulle op die baan en veld en dit is motivering genoeg om ‘n nalentenskap as Gimmie of Volkie te los.
















